HY MAAK MY SO KWAAD!
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?
2011-11-15
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?
2011-11-15
Volgens die Daily Mail het nuwe navorsing bewys dat vroue kwater is as mans. Natuurlik! dink jy, dis omdat mans vroue so kwaad maak! Veral jou eie man. Maar is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?
Jy is verantwoordelik vir jou woede
Daar word vertel van ’n vrou wat so kwaad was vir haar man dat sy in die parkie naby haar huis gaan sit en afkoel het. Die trane het oor haar wange geloop. ’n Ouerige man het langs haar op die bankie kom sit.
“Wat makeer?” het hy gevra sonder om inmengerig te klink. Verbaas het sy in die ou man se vriendelike gesig opgekyk.
“Hy maak my so kwaad!” het sy deur haar trane vertel.
“Hoe?” wou die ou man weet. En net daar vertel sy hom in detail hoe haar man heelaand voor die televisie lê terwyl sy met die kinders moet sukkel, dat hy naweke saam met vriende braai en rugby kyk, en dat die lekkende kraan in die kombuis steeds drup ...
“Jy verstaan verkeerd,” het die ouman gesê toe hy weer die kans kry om te praat. “Hoe kry hy dit reg?”
“Maar ek het jou nou net vertel,” het sy geïrriteerd geantwoord. “Ek het jou presies vertel waarom ek kwaad word.”
“Aha ...” skielik het die ou man se gesig verhelder. “Nou verstaan ek beter, jy word self kwaad oor hierdie goed. Ek wou sê, niemand kan jou kwaad máák nie.”
“Ekskuus?” wou sy oorbluf weet.
“Jy word self kwaad. As jy nie daardie goed gesien het nie of nie daarvan geweet het nie, sou dit jou nie kwaad gemaak het nie. Sy doen en late is nie woede nie, dis net doen en late. Jy koppel woede daaraan ...” Die vrou wou haar eers vir hierdie wildvreemdeling vererg, maar net voor sy hom presies kon vertel wat sy dink, het sy besef hy is reg.
Soms laat jy jou emosies met jou weghardloop, ten koste van jouself. Dit beteken glad nie dat jy alles maar gelate moet aanvaar nie, maar om kwaad te word laat jou gewoonlik die slegste daarvan afkom.
Woede werk nie
Hier is nou die interessante ding omtrent woede: Jy kry gewoonlik niks daarmee reg nie. In elk geval nie wat jy wou gehad het nie. Wanneer jy kwaad word, wil jy eintlik hê die fokus moet op jou onnosele man val, maar eintlik is dit jy wat aan die kortste ent trek. Neem byvoorbeeld vir Ronel.
Sy het ’n klompie vriende oorgenooi om by hulle hamburgers te eet – in stede van die gewone braai-ding. En sy het omtrent uitgehang. Daar was sampioensous, kaassous, soetsuursous, noem maar op. Sy wou hê almal moes die lekkerste burgers ooit by haar huis eet.
“Ek sal vir jou die patties braai,” bied haar man ewe gaaf aan.
“Nee, dankie,” sê sy, “ek doen dit op ’n spesiale manier.
“Ag, asseblief,” hou hy aan, “wat is ’n kuier sonder ’n vuurtjie?” Sy stem in, en verduidelik presies vir hom wanneer hy die braaisous moet opsit, hoeveel, en hoe lank dit gebraai moet word.
Net betyds vir ete, bring hy die patties in. Die manne het hulle vuurtjie gehad en die vroue het lekker gesels. Nou moes almal nog net die perfekte hamburger eet, het Ronel blinkoog gedink ... Tot sy die vol, onoopgemaakte bottel braaisous op die tafel sien staan. Haar man het wasbleek geword en sy bloedrooi. “Ek het jou mos gesê ...” het sy gesis. En die ete bederf voor enigiemand nog iets geproe het.
Hoekom? Omdat haar man se optrede haar goeduitgewerkte planne in die wiele gery het. Het sy rede gehad om kwaad te wees? Natuurlik! Maar het haar woede die braaisous op die regte tyd, in die regte hoeveelheid, teen die regte temperatuur op die patties gekry? Nee. Die moeite werd? Jy moet maar self besluit.
Haal so die wind uit jou woede se seile uit:
Wanneer woede soos ’n vloedgolf oor jou spoel, sê die volgende: “Gee my ’n oomblik.” Nie vir jou man nie (hoewel dit ook sal help!) maar vir jouself. Vra jou emosionele self om vir jou verstandige self ’n oomblik te gee. En dan maak jy so:
• Dit is in orde om kwaad te word. Woede is ’n normale menslike emosie. Maar net soos huil en lag kan dit die lewe vir jou moeilik maak as dit op die verkeerde tyd en manier gebeur! Erken dus aan jouself, ek is kwaad en dis oukei.
• Dan moet jy uitvind hoekom jy kwaad is. Is dit regtig omdat hy ’n uur laat is of al weer vergeet het om melk op pad huis toe te koop? Of is jy kwaad omdat hy nie na jou luister nie of jou in nie ag neem nie. Dit help nie julle baklei oor melk as jy eintlik emosioneel afgeskeep voel nie. So gaan julle net al óm die probleem werk. En jy gaan een van daardie vroue word wat oor die kleinste dingetjie ’n woedeuitbarsting het.
• Wag totdat jou hartklop en asemhaling bedaar. Laat jou woede se fisieke uitwerking eers uitwoed voordat jy enigiets doen. Wanneer jy daardie “veg of vlug” gevoel kry ... vlug!
• Rustig en kalm, vertel jou man dat jy nie regtig ontsteld is oor die tekort aan melk in die huis nie, maar dat dit vir jou voel asof hy jou nie hoor nie. Of jy besef dalk dat dit wat jou kwaad gemaak het, nie die einde van die wêreld is nie – dalk eerder hormone, stres of ’n tekort aan slaap! Los dit dan, moenie die lewe vir jouself nóg moeiliker maak nie.
- Ek is bly ek het hierdie artikel gelees want ek het die naweer soos 'n hond gevoel toe ek my man nie kon help in die rolstoel nie en toe die voetstuk van die stoel BAIE HARD op die vloer neergooi en vir hom se ek KAN NIE MEER ALLEEN REGKOM nie ek besef nou ek was KWAAD oor my gebrek aan KRAG EN NIE VIR HOM nie. Ag ek bid maar om sterk te wees sodat ek hom beter kan hanteer.
- ek wil graag iets weet, ek raak baie vinnig kwaad en kan partykeer dae kwaad wees. my verloofde het so 10 jaar terug sy vrou en kind aan dood afgestaan en baie begin drink ons is nou al so 7 jaar saam, party keer ga jol hy en kom oggend ure terug en dit gaan al beter hy drink minder, Maar ons kani saam vriende kuier sonder dat daar gedrink moet word nie dan word ek kwaad en bederf die hele kuier. as hy drink wil hy gemeenskap he en as ek nie wil se hy ek pers om hom af.ek het 'n kort humeur maar ek het ook 4 dogters en ons baklei deesdae baie, ek voel dat ek eerder net wil vlug maar is reeds ook al geskei met 2 kidz uit huwelik en 2 van huidig. ons was al vir berading maar dit het goed gegaan vir ruk en nou hou dit net aan slegter gaan. Hoe maak 'n mens as jy regtig lief is vir hom maar nie so kan aangaan, dreig,baklei, vloek niks help ????dankie
- kommentaar ...dankie...maar patrick,was dit verkeerd,toe die man in my lewe rond gekyk dit,en ek hom altyd gevra dit om eerlik te wees,en hom gese dit dat ek ken nie so lewe waar man meer as met een vrou slaap,ek het ook woede gehad..woede omdat hy my nie reg getreat het nie,hy was oneerlikk, en die vrou wat saam hom agter my seksueel verkeer dit,nou lag en mak asof ek grap is vir haar,en vir haar is dit soos oorwinning,want sy het nie regverdig die man deel gemaak van haar lewe,sy het hom van my en sy baba ontneem...en toe ek hom vang saam haar besig om daardie lelike daat te doen.was ek in woede en hom geskel..
- Ek wil graag weet hoekom vroue hierdie gemors raad van 'n man ontvang? Hy is nie 'n vrou nie, ek gee nie om hoeveel geleerdheid hy het nie, hy kan nie met 'n vrou se kop dink nie, hy is 'n man en sal altyd uitmaak asof ons vroue alleen die woede dra. Ek vat dit so, as ek my man gevra het om braaisous op die patties te gooi en hy doen dit nie sê dit net een ding: Hy ag my wense en versoeke en begeertes nie belangrik genoeg nie. Ek vergeet niks, hy het altyd kos op die tafel, skeerseep, deodorant, wat ookal hy nodig het, inteendeel, hy hoef my selde hierdie goed te vra of te herinner, so ek verwag van hom dat die bietjie wat ek van hom versoek, hy sal doen. Daar is geen verskoning nie. Dis die soort optrede wat vroue na die vleismes laat gryp en hom wreed aanrand of in 'n ander man of selfs 'n ander vrou se arms laat beland. Mans moet doodeenvoudig en so maklik soos dit, wakker word en besef dat sy vrou soms belangriker is as sy eie gemene selfsugtige begeertes. En manlike sielkundiges moet SLEGS vir mans raad gee, NOOIT vir vrouens nie. Jy is nie 'n vrou nie en jy kan nie soos een dink nie.
- Woede is woede want jy is verontreg. maar daar moet eers 'n ooreenkoms wees. As jul huislike pligte gedeel is en hy doen nie sy deel nie, dan kan jy kwaad word. Maar as jy sukkel sonder om hulp te vra moet jy maar "suffer" Ek voel 'n man moet kan vat wat hy uitdeel, en die meeste kan nie . . .
- Sjoe, na aanleiding van die bostaande kommentaar, is dit duidelik dat baie vrouens baie kwaad is en voel erg verwaarloos. Kyk, ek stem saam dat 'n man nie juis die gewensde persoon is om vir vrouens se woedebuie raad te gee nie, en dis duidelik in die laaste paragraaf waar hy sê dat dit wat jou kwaad maak hormone of stres of te kort aan slaap is. Vir mans is alle vroue se probleme hormoon-gekoppel en maak hulle jou "issue" uit as nonsens omdat jou hormone jou maak oorreageer. Ja, vrouens oorreageer gewoonlik makliker wanneer dit naby aan hulle menstruele siklus is, maar wat is die verskoning wanneer mans oorreageer? Ek stem wel saam met die skrywer dat jy self kwaad word en niemand jou kwaad kan maak nie. Ek stem ook saam dat jy kan kies hoe jy reageer wanneer jy kwaad word, en jou woede nie in 'n tantrum hoef te ontaard nie. Dit help niks n berooken meestal groter skade aan as die ding waaroor jy kwaad is. Jy en jou man behoort 'n manier te kry om verskille en woede te kan hanteer sonder om mekaar te wil doodmaak in 'n emosionele uitbarsting. Ek weet dis baie moeilik as jy 'n emosionel afgestompde man moet laat verstaan wat jy voel wanneer hy jou wense ignoreer, maar uit ondervinding weet ek dat die tantrums net 'n moerse fight ontlok en geen oplossing tot die probleem nie. Volgende keer doen hy presies dieselfde en dan fight julle weer van voor af.
argief
DIE EKS-FAKTOR
Rubriek vir geskeide vroue deur Natasha Sutherland.WEET JY WAT JOU MAN REGTIG HÊ?
Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê ...WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...
Jy kan jou kind se skoollewe baie makliker maak as jy weet hoe 'n onderwyser dink!WEES 'N SUPER-DUPER MA
Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir 'n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie.BETER HUWELIK, GEEN WOORDE
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!WATTER TIPE MA IS JY?
Dink jou kinders nog jy's die coolste ma ... of sê hulle jy is te streng, te verstrooid of heeltemal laf?HY MAAK MY SO KWAAD!
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?OORLEEF JOU SKOONOUERS
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.


.jpg)




.jpg)

















