OORLEEF JOU SKOONOUERS
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!
2011-11-15
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!
2011-11-15
Kleintyd kon jy nie wag vir Kersfees nie! Dit was die lekkerste tyd van die jaar. Maar as jy toe geweet het wat jy nou weet, sou jy seker saam met jou ma in die badkamer gehuil het ... want skoonfamilie beteken baiekeer moeilikheid!
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou, veral as daar kinders is en al die oupas en oumas hulle “spesiale tyd” opeis. Die goeie nuus is - daar is maniere om hierdie pynlike familiebyeenkoms draagliker te maak. En as jy een van daardie mense is wat mal is oor jou familie en sommer jou skoonfamilie ook, moet jy ekstra mooi lees ...
“Sy meng in!”
Sy sê: “Dit is elke jaar se moeilikheid. Ek kan sien dat my skoonma die eerste rukkie doelbewus haar mond probeer hou, maar dan begin die goedjies eers sagkens uitglip en later sommer blatant. Sy sal kla my kinders eet te min, te veel en te morsig. Die manier hoe hulle met my praat, is ook ongewens. Al wanneer hulle oulik is, is wanneer sy in die omtrek is om hulle in toom te hou en reg te leer. Selfs die manier wat ek die eiers klits is nie reg nie.”
Hy sê: “Ek weet my vrou raak geïrriteerd wanneer my ma heeltyd ʼn opinie oor alles het, maar sy bedoel dit goed. En sy kan tog nie so vreeslik verkeerd wees nie, sy’t my groot gemaak en my vrou hou van my (... soms)!”
Skoonma sê: “Ek probeer eerlikwaar net help. Dit is moeilik om terug te sit en toe te kyk hoe my kinders foute maak wat kon gebly het. Ek het darem ’n paar jaar se lewenservaring aan my kant!”
Oplossing: Probeer om nie alleen te gaan kuier nie; hoe meer mense daar is, hoe meer afleiding! Aanvaar dat jou skoonouers opinies het en soms sukkel om dit vir hulleself te hou. Maar is dit regtig die moeite werd om almal se vakansie te bederf daaroor? Nee, wat.
“Hulle is agies!”
Hy sê: “My skoonma (en skoonpa!) is baie nuuskierig. Sy wil altyd alles weet. Hoe? En hoekom? En wanneer? En waar? As dit nie vir al die vrae was nie, sou ek meer gereeld daar gaan kuier het, want dis heerlik op die plattelandse dorpie waar hulle bly. Maar die gepeper met vrae maak my gek. My skoonma dink niks daarvan om my te vra hoeveel my salaris is nie! En sodra sy dit gevra het, wil sy weet wat is my vyf- en tienjaarplan. Ook met watter verf ek die mure geverf het, hoe ver ek draf en hoe laat ek saans by die huis kom. Red my!”
Sy sê: “Vakansies by my ma-hulle is ’n nagmerrie, want my man raak geïrriteerd oor al die vrae wat my ouers vra, en hulle stel eintlik net belang. Regtig. Wat moet ek nou doen? Vir hulle sê hulle mag hom niks vra nie?”
Skoonouers sê: “Ons sien die kinders so min en as hulle die slag kom kuier, wil ons alles weet. Maar dit lyk altyd of ons skoonseun nie met ons wil praat nie. Ons weet eintlik nie meer wat om te vra om hom aan die gesels te kry nie.”
Oplossing: Hierdie is een van die maklike probleme om op te los. Na gelang van jou geaardheid kan jy die volgende op ongewenste vrae antwoord: “Dis ’n geheim, ek kan jou sê, maar dan moet ek jou doodmaak!”Of jy kan eenvoudig antwoord dat jy nie regtig daaroor wil praat nie (sonder om ongeskik te wees) en dan die onderwerp verander. Gestel jou skoonpa vra uit oor jou werk, vra hom hoe die situasie was toe hy jou ouderdom was. Hy sal dit tien teen een geniet om jou te vertel!
“Niks is op standaard nie!”
Sy sê: “Niks wat ek doen, is goed genoeg vir my man se ma nie. As ek kos maak, het sy altyd ’n beter resep. En as ek klere koop, verkies sy gewoonlik die ‘snit wat my sagte figuur beter sal pas’! Ek voel so dom en uitgelewer. Die einde van die jaar is daar ook mos alewig ’n gepraat oor wat wie volgende jaar gaan studeer. Die bure se kind, hulle ander kleinseun of die dominee se vrou ... ’n Mens sou sweer dis net ek wat nie ’n graad het nie!”
Hy sê: “My vrou haat dit om Kerstyd by my familie te gaan kuier. Sy kla sy voel ‘uit’. Maar ek sien dit nie regtig raak nie, dalk is sy maar net oorsensitief.”
Skoonma sê: “Ja, daar was ’n tyd toe ek gedink het my seun kon beter gedoen het, maar nou het ek vrede gemaak met sy keuse van vrou. Die minste wat ek kan doen, is om haar te probeer help. Sy het regtig baie om te leer.”
Oplossing: Hieroor sal jy en jou man moet saamstaan. Jy moet ophou om soos ’n slagoffer op te tree en hy moet jou ondersteun met antwoorde soos: “Ek hou van daardie rok wat my vrou aanhet, Ma, ek het dit gekies!” En jy sal ook jou man moet staan, sonder om aanvallend te wees. Verduidelik dat sy haar opinie mag hê, maar dat dit jou manier van aantrek of doen is. As sy dan daaroor ontsteld is, moenie verskoning maak nie. Jou skoonouers sal aanvanklik rebelleer teen jou “selfstandige” gedrag, maar hulle sal later daaraan gewoond raak en jou respekteer.
Met al hierdie raad sal jou vakansie so vlot verloop, jy sal volgende keer nie kan wag om by die skoonfamilie te gaan kuier nie. Werk ook ’n fliek, DVD en uitstappie na ’n inkoopsentrum by jou vakansie in. So kan elkeen ’n bietjie met hulle eie gedagtes of geselskap ontspan. Dit is mos hoe ’n vakansie behoort te wees – ontspanne! Nou toe, gaan pak jou tasse en kom in die regte bui, want jou vakansie gaan fantasties wees!
Bronnelys:
Holidays with your in-laws by Jenna D. Barry. Jenna D. Barry is the author of A Wife’s Guide to In-laws: How to Gain Your Husband’s Loyalty Without Killing His Parents.” http://shine.yahoo.com/channel/life/holidays-with-your-in-laws-2405213
Six Tips For Spending the Holidays With Your In-laws. http://www.metroplexbaby.com/ParentGuides/Six-Tips-For-Spending-the-Holidays-With-Your-In-laws.htm
Surviving the Holidays with Your In-Laws. Author: Cory H. http://agoodhusband.net/2008/12/surviving-the-holidays-with-your-in-laws/
- Wees dankbaar skoonma-hulle woon nie regdeur die jaar in die "oumawoonstel" op die erf nie!!!! Veral as die agterdeure dieselfde stoepie deel nie!
argief
DIE EKS-FAKTOR
Rubriek vir geskeide vroue deur Natasha Sutherland.WEET JY WAT JOU MAN REGTIG HÊ?
Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê ...WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...
Jy kan jou kind se skoollewe baie makliker maak as jy weet hoe 'n onderwyser dink!WEES 'N SUPER-DUPER MA
Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir 'n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie.BETER HUWELIK, GEEN WOORDE
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!WATTER TIPE MA IS JY?
Dink jou kinders nog jy's die coolste ma ... of sê hulle jy is te streng, te verstrooid of heeltemal laf?HY MAAK MY SO KWAAD!
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?OORLEEF JOU SKOONOUERS
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.


.jpg)




.jpg)

















