22 TREK DIE GESINSBANDE KNUS jou mense Articles www.voelgoed.co.za

TREK DIE GESINSBANDE KNUS

TREK DIE GESINSBANDE KNUS

Nege beproefde bestanddele!

2010-08-25Carina van Heerde

Bring so jou kant

Party dinge in die lewe is as’t ware heel eenvoudig en kan sweetloos deel word van jou leefstyl. Hier is nege beproefde bestanddele wat maklik by jou daaglikse roetine gevoeg kan word om in ’n japtrap die vrugte van ’n gesonde gesinslewe te pluk.
•    Maak meer tyd om te luister.
•    Moenie onnodig preek nie, hou dit kort en kragtig.
•    Erken die emosies wat in jou gesin woelig is.
•    Fokus daarop om eerder te help as om oor te neem.
•    Verduidelik, moenie forseer nie.
•    Stel jou saak, moet nooit skel nie.
•    Glimlag meer, frons minder.
•    Sien altyd die groot prentjie en vermy die draadwerk van konflik.
•    Rus en geniet stil oomblikke saam met jou geliefdes.

Die slim mense se raad
 
474 gesinne het deelgeneem aan ’n onlangse studie om te bepaal waar spanning tussen ouers en kinders vandaan kom. Dít is hul bevindinge en raad:
•    Daar is meer spanning tussen ouers en dogter, as tussen ouers en seun. Dogters spandeer meer tyd saam met hul ouers, wat moontlik kan lei tot meer spanning. Moenie mekaar versmoor nie. Alleentyd is goeie groeityd.
•    Seuns en dogters ondervind meer spanning in hul verhouding met ma as dié met pa. Dit blyk veral die geval te wees waar ma inmeng. Skud dus bietjie jou rokspante los.
•    Hoe ouer die kind, hoe groter die spanning. Soos persoonlikhede ontwikkel, so moet dit gekoester word. Aanvaar jou kind voetstoots en geniet die persoon wat voor jou oё vorm aanneem.

Groot gesprekke, klein skerm

Wanneer laas het jy en jou meisiekind saam ’n chick-fliek gekyk? Doen dit sommer tuis, knus opgekrul in kamerjassie met ’n groot bak springmielies:
The Joy Luck Club. Hierdie film dring deur tot die hart van die ma-dogter verhouding. Dis die verhaal van vier vroue wat ontvou teen die lig van hul geskiedenis, kultuur en verhoudings met hul dogters.
Nights in Rodanthe. Die rou emosies van vrouwees word ontdek wanneer ’n vrou moeilike besluite oor haar lewe, huwelik en gesin moet neem. Hierdie film is ’n gesprekvonk wat lig op jou moedershart werp.
August Rush. ’n Kragtoer van emosies wanneer ’n wesie sy ouers gaan opsoek. Hierdie vertolking van die onsigbare liefdesband tussen ouers en kind sal hope nat tissues om jul voete tot gevolg hê.

Kortverhaal van die lewe
 
Sy is vyf en jy is haar heldin. Sy besmeer haar gesig met jou grimering, toetsbestuur jou hoёhakke en tooi haarself in jou Versace. Dan word sy dertien en ewe skielik weet jy niks nie. Jul basiese vorm van interaksie is ’n enkele woord: “Maaaaa!” En dan, wanneer sy omtrent vyf-en-twintig word, is sy verstom deur hoeveel wysheid jý in die afgelope twaalf jaar opgedoen het. Kenners erken ses fases van ouerskap, elk met sy unieke uitdagings en vereistes. Spring met oorgawe kniediep in elke fase en wanneer jy soms voel soos ’n houtkapper wat ’n standbeeld kerf, onthou dat hierdie fase, soos die vorige, vinnig en vir ewig gaan verbyglip. Hou vas aan herinneringe deur die klein goedjies op film of in ’n scrapbook te verewig.

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]