22 SÓ HANTEER MY KINDERS MY VERKRAGTING jou mense Articles www.voelgoed.co.za

SÓ HANTEER MY KINDERS MY VERKRAGTING

SÓ HANTEER MY KINDERS MY VERKRAGTING

Hettie Brittz en haar terapeut, Marietjie Yssel, verduidelik die proses waardeur sy en haar kinders is na haar verkragting.

2010-05-11

Die engel wat ons help

Dr. Marietjie Yssel was die engel wat ek ’n paar jaar gelede gebel het toe een van my naskoolkinders se liggaampie ten aanskoue van amper veertig maatjies deur ’n dronk motorfietsryer vergruis is. Sy het my telefonies deur die  trauma-ontlonting begelei, waartydens ek geleer het dat veertig kinders dieselfde trauma kan beleef, maar dat elkeen uniek daardeur moet werk.

Sy was daarom my eerste keuse toe trauma deur my eie gesin se voordeur gebars het. My mammahart was bekommerd dat my drie kinders, alhoewel hulle wonderbaarlik deur die roof, my verkragting en my man se ontvoering geslaap het, tog op unieke maniere getraumatiseer kon wees. My ervaring van absolute vrede (Shalom: “nothing missing; nothing broken”) was nie noodwendig ook hulle s’n nie!

Marietjie stel dit so mooi: “In sommige van ons is die blink stuk omgee vir kinders se harte ’n groot lekker ronde klont liefde. Ons wil hulle help om groot te word sonder onnodige hartswonde en ons wil hulle hoor skaterlag oor alles wat kinders fassineer en bly maak. Ongelukkig leef ons in ’n wêreld wat aaklige modderkluite teen hierdie harte vasgooi.  Ons wonder wat ons kan doen om die impak daarvan so te minimaliseer dat dit ’n herinnering word wat nie meer naarmaak of seermaak nie.”

Goeie verhoudings is ongelooflik belangrik

Ons situasie was uniek in die opsig dat die kinders na ’n heerlike twee dae by Oupa en Ouma in die Bosveld teruggekom het na ’n huis wat nog dieselfde lyk en voel (vol bosse en bosse blomme) en ’n kalm mamma sonder sigbare wonde. Hulle kon uitvind dat niemand in hulle slaapkamers was nie. Hulle gunstellingspeelgoed is nie gesteel nie. Net rekenaars, selfone, trouringe, geld en pappa se kar is weg. Baie leliker dinge is hulle gespaar. Dis nie vir al ons kinders so nie.
 
Marietjie verduidelik: “Die ouderdom van die kind, gesinsituasie, temperament en sensoriese geheuebank (herinnerings aan klanke, woorde, reuke, plekke, mense, voorwerpe en gebeure) beïnvloed die kind se belewenis van elke situasie wat voorkom en bepaal ook wat vassteek en hoe dit vassteek.  Wanneer kinders direk die slagoffers van trauma is, beleef hulle die situasie baie meer intens, maar die indirekte slagoffers (kinders) sal dit beleef tot die mate wat dit hulle wêreldjies skud. Ons kan kinders sterk maak voor en na trauma en so die effek daarvan verminder. Ons moet hulle emosioneel veilig en geborge laat voel, hulle onafhanklikheid versterk en ’n gevoel van gesonde, beheer vestig.”

Ek kon deur hierdie ervaring die vrug sien van geborge verhoudings tussen ons en ons kinders. Ons blaas ook nie vrees aan deur misdaad en geweld oormatig te bespreek of hulle aan sulke gesprekke bloot te stel nie. Elkeen slaap alleen in ’n kamer met die lig af – vreesloos en sonder die suggestie dat hulle net veilig is wanneer ons naby is of wanneer die ligte brand. Dit was so voor die inbraak en dit is steeds so. Wetende dat hulle onafhanklikheid en sekuriteit nie bedreig mag word nie, het ek nie toe Pappa dadelik vir amper drie weke oorsee moes gaan, die voorstel gemaak dat ons nou maar almal bang saam in een kamer moet skuil of iewers anders moet gaan woon nie! Juis daardie ontwrigting en verandering sou die trauma kon vererger het en hulle kon laat voel asof hulle die veilige hawe van hulle huis en eie slaapkamers verloor het.

In alledaagse ervarings leer ons kinders vertroue, onafhanklikheid en beheer wat bepalend inwerk op hulle belewenis van trauma. Kinders wat reeds onveilig voel, onnodig afhanklik gehou word en uitgelewer is aan mense wat hulle grense minag of alle beheer van hulle wegneem, sal trauma baie erg beleef.

Wenke om saam met jou kinders trauma te hanteer

Marietjie gee hierdie praktiese wenke wat ook in lyn is met wat ek in my boeke Kweek Kinders met Karakter en Kweek Kinders met Gesonde Gesag voorstaan:


-    Gun jou kind die geleentheid om jou onvoorwaardelik te kan vertrou. Doen wat jy belowe en skep voorspelbaarheid. Die vyf-minute- reël werk vir my altyd baie goed – veral as ’n kind lekker speel of na ’n gunstelingstorie kyk.  “Pops, daar is vyf minute oor, dan moet ons oppak/gaan eet/gaan bad”.  Dit verminder ook sommer die hoeveelheid frustrasie wat gewoonlik tot “tantrums” lei.


-    Wat die fasilitering van onafhanklikheid betref, is my goue reël om jou kind se selfvertroue te versterk deur nie vir hom dinge te doen wat hy reeds self kan doen nie. Glo dat hy self ’n plan kan maak, en kommunikeer dit aan hom, bv.“ek dink jy kan self probeer om ’n plan te maak, ek is hier om jou te help as dit nodig is, maar ek wil hê jy moet eers self probeer.”


-    Ouderdomstoepaslike beheer is ’n wonderlike sleutel waaroor ’n mens boeke kan skryf. Sommige kinders is van nature sterker leiers en wil alles self doen (en dit is nie beperk tot die tweejarige ouderdomsfase nie!).  Veral na ’n trauma-belewenis is dit noodsaaklik dat kinders weer beheer op ’n praktiese, sensoriese vlak sal beleef. Hettie se seun Pero het byvoorbeeld later “gehelp” toe die elektriese heining opgesit is en gevoel of hy so die lewe vir die boewe moeiliker kon maak! Hy het ook traps gebou en in die agtertuin geplant…


-     Elke keer wat ’n kind tussen twee nie-bedreigende opsies kan kies, bv. “Dis tyd dat jy moet gaan bad, jy kan kies of jy die blou of groen bubblebath in jou badwater wil hê” en die suksesvolle resultaat van sy keuse beleef, verlaag dit sy angs en frustrasievlakke en bou dit sy vertroue en gevoel van beheer uit. 

Marietjie het in twee spelterapie-sessies die hele verhaal op ouderdomstoepaslike wyse, met prentjies, verwery, plakkertjies en speletjies, met my kinders deurgewerk, met klem op die “ja’s” en “nee’s” wat ons in situasies soos hierdie kan sê, en ook gesels oor die planne wat ons kan maak wanneer slegte dinge gebeur. Ons het gepraat oor die “ja’s” en “nee’s” wat die Here sê, en dat wanneer Hy seer dinge toelaat, Hy die seer help dra. Daardeur het my kinders self tot berusting gekom deur opmerkings te maak soos: “Jesus het nee gesê toe hulle Pappa wou skiet.” en “As iemand my geld wil vat en hy het ’n wapen, gaan ek ’n slim plan maak en liewer “ja” sê, want ek het nie ’n geweer nie.” “Ek verstaan waarom diewe mense se hande vasbind. Dis ’n goeie plan, maar dis verkeerd.” “Dit was ’n goeie plan om nie na hulle gesigte te kyk nie.”
 
Die vyand kan alles neem, maar ons staan op die Rots

Met hulle uiteenlopende temperamente (ek het ’n sierpalm, ’n palmroos en ’n den) sou ’n mens seker elke vorm van uitbarsting, angstigheid, klouerigheid of woede kon verwag in reaksie op die gebeure. Ons het hieruit opnuut besef hoe ouers die toon aangee en hoe kinders by ons leer hoe om te vrees en hoe om te vertrou, hoe om te huil, te bid en vorentoe te kyk. Ons kan gerus meer beheer neem oor wat ons die vyand toelaat om by ons en ons kinders te steel. Ons kinders se  vertroue, vreugde en vrede hoef nie saam met laptops weggedra te word nie. Dit moet gesetel wees in geborge huisgesinne wat op die Rots bou.



Kommentaar
  • Liewe Hettie, die manier hoe jy & jou gesin die trauma verwerk gee my moed. Dankie dat jy jou ervaring deel.

    Voorspoed op julle pad vorentoe!

    Seenwense, Maryke Symington
  • Hi Hettie dis vir my Amazing om te lees hoe julle, julle kinders vreesloos groot maak aangesien ek as kind baie bang was en altyd met 'n lig aangeslaap het.So vinnig plaas ons ons vrese oor op ons kinders.As kind was ek gemollesteer en het ek ook Genesing ontvang van ons Pappa Vader.'n Mens kan net deur sulke situasies kom deur die krag en Genade van ons Pappa Vader.Ons bid vir jou en Louie, julle het 'n Amazing bediening.
  • Hettie,
    Toe ek die eerste keer hoor wat met jou gebeur het, het ek geweet God het dit toegelaat vir 'n rede, dit was eers toe ek jou getuienis in die Beeld van 11 Feb 2010 lees dat ek besef het HOEKOM. Jou getuienis het my as gelowige so gemotiveer vir 'n beter verhouding met God, dink net wat het dit aan onglowiges gedoen.
    Jy inspireer my!!!
    Jesus liefde
    Alta de Villiers
  • Hettie ek sal graag jou hele getuienis wou hoor ons hier in die Noord Kaap kry net gedeeltelik wat gebeur het. Toe dit gebeur het was dit regtig vir my verstand teveel om te verwerk. Ek sukkel nounog ek dag dan Jesus se bloed beskerm ons teen sulke dinge. Veral iemand soos julle wat so openlik leef vir Hom maar dit is my eie stryd seker wat ek sal moet stry. Ek is net bly julle het nie jul geloof in God verloor nie.
  • WOW!!! Jy maak Gog se hart so bly...dankie vir jou gehoorsaamheid en jou geloof is 'm inpsirasie vir elkeen van ons...dankie!!!
  • Hettie dankie dat jy vir ons die goeie waardes van 'n gesin kan leer. Jy is 'n wonderlike mensie
  • Hettie. Dankie vir die inspirasie! Van nou af sal ek 2 keer dink oor die dinge wat ek geglo het beskerming vir my 2 kleuters is en moet wees. Om voluit te lewe is wat ek nou gaan doen!
  • Sjoe, terwyl ek lees besef ek dat ek alles verkeerd gedoen het..ek en my 3 dogterjies, 6,5 jaar en 5 maande, op daai stadium was ook in n kaping, en eergister, 2 jaar later was hier weer skote buite die huis, en pa was in die hospitaal met n nieroperasie...ek as ma was vreesbevange, alhoewel ek en my man in die bediening is, het ek geen selfbeheersing gehad nie, (my eie pa was n alkholis en baie aggresief), hoe vat ek hulle vrees weg as ek nie my eie kan nie??? My oudste slaap baie min in haar eie kamer, hoor stemme ens...sy is regtig bang....ons was al vir verskeie beradings, dit voel net ek mis erens iets...
  • Hettie jy het werklik my geloof versterk en my ook laat besef dat Jesus nie 'toelaat' dat sulke goed met ons gebeur nie, maar Hy is daar ons oms deur dit te dra. Christa

gesels saam


argief