VERVELIGE VERHOUDINGS? NIE MEER NIE!
Laat bietjie waagmoed jou verhoudings inkleur.
2010-02-25Maretha Botes
Laat bietjie waagmoed jou verhoudings inkleur.
2010-02-25Maretha Botes
WEES STIL SAAM MET JOU SKOONMA
Almal weet dat skoonma’s en skoondogters meestal vassit. Of julle nou ooghare het vir mekaar of nie. Dis dalk ’n goeie idee om op ’n ander tipe manier tyd saam deur te bring. Tyd sonder koek en tee. Tyd sonder kinders wat heeltyd vir Ma of Ouma iets wil sê of wys. Tyd sonder die res van die familie wat alewig honger is. Tyd, sonder spanning, sonder om te baklei.
Nooi jou skoonma om saam met jou te kom tuinmaak. Moet nou nie vir haar die pik en graaf gee nie – al wil jy dit heimlik nog altyd doen. Moet jy ook liewer nie die graaf vat nie, netnou swaai jy dit per ongeluk te wild rond ...
As jou skoonma beter tuin maak as jy, laat sy jou daarvan vertel. Of as jy die tuinier is, leer haar hoe om kruie te plant. Krap saam in die klam grond rond, daar waar regte wonderwerke nog gebeur. Daar waar dinge gebore word, groei en doodgaan. Bridget Hilton-Barber, skrywer van Garden of My Ancestors, meen daaglikse kontak met grond, son, water, plante en blomme sal jou verlig en met vreugde vul – weg is die woede en die wrewel. En terwyl julle daar in die grond woel, wees stil. Stilte is baie meer werd as leë woorde of harde sinne wat wreed op harte neerklap.
BREEK WEG SAAM MET JOU VRIENDIN
Anita van Bloemfontein en ’n paar goeie vriendinne gaan elke jaar vir ’n langnaweek alleen see toe. Al vir die afgelope 20 jaar. “Ons doen absoluut niks nie. Daar is nie winkels nie en ons ry nêrens heen nie. Elke dag is ’n ‘stranddag’ en in die aand braai ons vleis ... sonder ’n man wat oor ons skouers loer!” Want hulle los die kinders en die manne tuis. Een keer ’n dag word daar huis toe gebel om vinnig te hoor of almal nog leef – maar tyd vir op die telefoon lê, is daar nie. “Wanneer ons terugkom, kan ek weer dinge met nuwe ywer doen, want ek het onthou wie Anita eintlik is.”
Susan Eckert van Adventure Women in Montana, reël al sedert 1982 reise net vir vroue. “Al die vroue voel dat hulle tydens hierdie toere net hulleself kan wees. Sonder om voor te gee of te kompeteer.” Daarom sal die vroue gemakliker voel om skubaduik en bergklim te probeer, want hulle kan dit op hulle eie manier doen.
Daar is heelwat agentskappe wat toere uitsluitlik vir vroue reël – gaan soek net bietjie op die internet rond. Dit gaan nie van jou ’n slegte vrou en ma maak om saam met jou vriendin weg te breek nie. Inteendeel, jy sal dalk selfs meer vir jou gesin kan beteken as jy elke nou en dan jou kragte gaan aanvul.
SKINNY DIP SAAM MET JOU MAN
“Jy hoef nie skinny te wees om dit te geniet nie,” verduidelik Susan Mann, voorheen ’n finalis vir die Statebond Skrywersprys. “Kaal swem klink heelwat beter.”
Om kaal te swem gaan oor die gevoel van water teen jou vel. En die stilte wanneer jy totaal deur water omring is. En die tipe kaal swem waarvan Susan praat, is nie dit wat jy helder oordag voor ’n skare op ’n nudistestrand doen nie ... nadat jy alles wat toe behoort te wees oopgebak het nie! Of die manier waarop die “narre” op ’n braai in die swembad inplons ná hulle ’n hele paar biere té veel afgesluk het nie ... Nee.
Wanneer jy sag in ’n dam, rivier, poel of seewater inglip en saggies jou wang teen die natuur skuur, dít is wat jy saam met jou man moet doen. Hierdie rustige manier van totale oorgawe is die perfekte manier om te ontspan, en regtig naby aan jou man te wees. Op ’n manier wat vir hom ook opwindend is. Sonder enigiets wat julle terughou, kan julle totaal vry in die water wees. Vry van bekommernis, vry van vrese, vry van geraas en dinge wat julle aandag aftrek. En dis belangrik om van tyd tot tyd so te wees.
KAMP UIT SAAM MET JOU KINDERS
Al is dit in jou tuin, en al dra jy hulle voor twaalfuur na hulle bedjies toe terug. Maar doen moeite om die tent op te slaan. Sorg dat daar ’n vuurtjie brand en ’n paar worsies of malvalekkers is om te braai. Moenie dink aan die gemors of die volgende dag se opruim nie. Vergeet dat jy dit eintlik haat om te kamp. En jy’s verkeerd ... dis nie hulle pa wat die soort ding moet doen nie. Dis juis jy. Want dis dit tipe ding wat hulle van jou gaan onthou, veral wanneer hulle eendag self kinders het. Lê op julle rûe buite die tent sodat julle na die sterre kan kyk ... verkieslik op ’n wolklose nag! Jy hoef nie ’n sterrekundige te wees nie. Soek prentjies in die lug. Dalk sien julle ’n verskietende ster of ’n satelliet. Die digter Fiona Zerbst is in vervoering oor die kragtige verbranding van sterre ... wat vir ons soos ’n oogknip lyk.
Kinders waardeer dit so as jy die wêreld soms vir klein rukkies soos hulle sien.
Klim op sy skaatsplank, al is jy bang. Maak ’n bommie in die swembad, al spat alles nat. En laat sy jou make-up ... jy kan dit altyd afwas. En sy sal dit nooit vergeet nie.
- Ek stem heeltemal saam met die wenke wat julle gee. DIT WERK! Mens moet probeer om dit gereeld te doen.
- Dis lekker wenke, maar sal meer wil weet oor persoonlike verskille in tiener verhoudings.
- Help met kommunikasie in die huwelik asb! Is vir my te goed dat hul in Christ. tydskrif artikel oor 2x bekendes (gewoonlik) plaas wat baie goed kommunikeer - hoe op dees aarde help dit ander OF gee hul ook maar net voor? - soos al bewys is.
argief
GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.'N BETER HUWELIK ...
... teen SondagDANKIE PA ...
... Jy is altyd daarGELUKKIGE HUWELIK CHALLENGE
Hoekom moet ons tevrede wees met huwelike wat net so-so is, as dit SJOE! kan wees? Ons wil mos warm wees, nie flou nie, of hoe?OUDSTE, MIDDELSTE, JONGSTE
Hoe verstaan ek hulle?KOOK DIT IN DIE KOOI?
Of is jou kamer 'n yskas?WEES 'N SUPER-DUPER MA!
Celebs gee raadOEFEN JOU VERHOUDING BETER
... op vreemdelinge!JOU KIND SE EMOSIES
... sorg vir gelukkige kinders























