22 WAT HOM GRENSLOOS IRRITEER ... jou mense Articles www.voelgoed.co.za

WAT HOM GRENSLOOS IRRITEER ...

WAT HOM GRENSLOOS IRRITEER ...

Kenners beveel aan dat jy irritasies uit jou gestel uitskryf. Lees wat irriteer Dirk so baie:

2010-01-13Cindé Mostert

MY LIEFSTE MAGRIET

Ek het toe die berader gaan sien, soos jy gevra het. ’n Aangename man. Vreemde idees. Maar kom ons kyk of dit werk. Volgens hom gaan dit eers slegter word voor dit sal beter raak. Dis ’n jammerte, nè? Ons het vandag oor al jou “swak punte” gepraat – al daardie klein goedjies oopgekloof wat gewoonlik tot die grootste gevegte lei. Dit voel darem nie reg om jou so met iemand anders te bespreek nie ...

Daarna het hy gesê ek moet dit neerskryf. Hy sê dat mans oor die algemeen sukkel om hul emosies uit te druk, en hierdie skrywery gaan glo daarmee help. Dis hoekom ek nou besig is met hierdie brief. Vir jou. Dan voel dit nie so vreeslik agteraf nie. En, Magriet, ek dink hierdie goed irriteer alle mans grensloos, net soos wat alle vroue dit sekerlik doen!

’n Jaloerse vrou is ’n lelike ding. Jy is altyd my nommer een. So vergeet nou die buurvrou se mooi bene en jou vriendin se ongelooflike kookvermoë. Fokus eerder op jouself. Ek is lief vir jóú.

Mans sê aanvanklik: “Ek het my hele lewe lank gewag vir ’n vrou soos jy.” Nou het ek jou, en ek is moeg gewag. Vyftien minute tops! ’n Uur is onvergeeflik – ek kan nie so lank wag vir jou om “klaar te maak” nie.

Net Harry Potter kan gedagtes lees. Vir my moet jy maar sê wat jy bedoel, in kort sinne, sonder pouses en woorde wat rym.

En jý kan ook nie gedagtes lees nie, al sou jy dalk graag wou. Moenie wilde aannames maak nie. Vra my liewer as jy iets wil weet. Ek sal jou vertel.

Het ek al gesê ek kan nie gedagtes lees nie? Dit is onbedagsaam om planne sonder my medewete te maak. Vra my eers; dalk het ek klaar iets anders aan. Ek het gewoonlik, veral as jy wil hê ek moet saam met jou ballet toe gaan ... Wanneer ek my dan effens vervies, moet asseblief nie oorsensitief wees nie. Ek is nie kwaad vir jou nie, eintlik is ek kwaad vir die plan ... of die inhoud van die plan.

Nog iets, as ek jou verjaarsdag vergeet, is ek nie minder lief vir jou nie. Inteendeel, jy is vir my veel meer as ’n nommer en ’n dag. Sit eerder ’n reminder op my foon, asseblief?

As jy (soms) in uitsonderlike gevalle begryp hoekom ek ongelukkig is, sê net jammer en gee my ’n soen. Nie, jammer maar ... en dan gee jy my weer van vooraf die skuld nie.

Ek waardeer dit baie wanneer jy wel (soms) my kant van die saak verstaan. Maar wanneer jy jou domastrant hou, sukkel ek om kalm te bly. Ek weet jy kan sekere dinge verstaan, maar kies om moeilik te wees. Onthou, ek is nie die vyand nie ... al dink jy seker partykeer so!

Ek sê soms niks nie, want soms praat jy te veel. Regtig.

En baie keer onderbreek jy my wanneer ek praat; ook wanneer ek besig is om iets te doen.

Wanneer jy my byvoorbeeld onderbreek om te vertel dat ek ’n blerts verf gemors het en dat ek dit dalk gou moet opvee, wil ek ’n aar bars. Ek het gesien ek mors, ek gaan dit opvee voor dit droog word. Dis voor die hand liggend. Ek is net besig om die lappie op te tel ... “Dankie dat jy die kombuis vir my uitverf” sal heelwat meer waardeer word.

Wanneer jy my soos ’n juffrou oor die vingers tik, is dit amper net so erg soos wanneer jy my oppiep. Jy is my vrou, nie my ma nie (dankie tog!). En ek is ’n groot, sterk, geharde man.

Daarom weet ek ook nie watter klere en kleure pas bymekaar nie. Ek is té onverfynd. As ék jou moet aantrek, gaan jy soos ’n huursoldaat lyk. Of niks aanhê nie!

Hoekom is jy in elk geval so besluiteloos? Is jy ooit seker oor my? Gaan kuier by jou ma of moenie. Eet die stuk koek of los dit. Dis nie so erg nie. En al tien rooi lipstiffies pas by jou. Koop enigeen … of almal. Besluit net!

Die meeste van die goed waaroor jy kla, bring jy ook oor jouself. Soos die simpel pan wat skeeftrek, want jy moes die ander een gevat het soos wat jy aanvanklik wou.  Nou hoekom het jy nie? Is dit hoekom jy so baie oor my ook kla? Moes jy eerder die ander een gevat het? (Ek wil nie regtig weet nie!)

Lyk my al waaroor jy wel baie seker is, is die stories wat jy en jou vriendinne van mekaar vertel. Skinder is simpel. Glad nie sexy nie. Ek kan ook nooit onthou wat jy my van wie vertel nie ... almal se aartappelslaai proe vir my oraait.

En ek sál die toiletsitplek vir jou neersit, as jy dit vir my sal optel!

Daar, nou is alles uit. Ek weet nie of ek regtig beter voel nie. Maar iets anders het wel gebeur. Ek het ’n hele paar dinge onthou wat ek graag vir jou sal wil doen.

Ek wil saam met jou deur al jou familie-albums kyk, sonder om te kla. En my arms van agter af om jou middel vou, daar waar jy jou voor die stoof afsloof. Dan wil ek vir jou sê hoe lekker jou kos smaak. Elke keer. Ek wil ook Sondae vroeg opstaan om saam met jou kerk toe te gaan en my hand op jou been sit terwyl ek bestuur. Die terggees in my wil ek meermale snoer en minstens twee aande per week vir jou die televisie se afstandbeheer gee sodat jy vir ’n slag kan kyk waarna jý wil. Ek wil graag begin draf, sodat my lyf goed kan lyk vir jou. Ek wil hê jy moet trots wees op my. En wanneer jy na ’n lang dag doodmoeg is, wil ek jou voete vryf. Dan wil ek sagte musiek speel, en stadig in die sitkamer met jou dans.

My liefste Magriet, ek wil bitter graag al hierdie goed vir jou doen ... as jy maar net nog hier was.

Liefde
Dirk

(NS: Dit sal ons eerste Kersfees sonder jou wees. Die kinders verlang nogal erg. Natalie het gister vir my ’n engel gebring. Sy het dit self by die kleuterskool gemaak. Sy het gevra ek moet asseblief vir ouma-engel heel bo-op die Kersboom sit.)


Bronnelys:

•    5 things guys hate about girls – revealed by Mark J Hamilton (http://ezinearticles.com/?5-5-things-guys-hate-about-girls---revealed&id=2575630)
•    10 things men hate (http://www.bukisa.com/articles/36228_men-hates-these-10-things)
•    10 things men hate about women (http://socyberty.com/men/10-things-men-hate-about-women/)
•    17 things women do that drive men mad, deur Marcus Gomez, Planet Syndication in The Complete Idiot’s Guide to Understanding Men and Women deur Lillian Glass.
•    98 simple things men can do to add spark to their marriage, deur Jim Lockwood (http://sevenactions.com/2008/04/98-simple-things-men-can-do-to-improve-their-marriage/)


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]