22 EK WEET JY JOK, WANT ... jou mense Articles www.voelgoed.co.za

EK WEET JY JOK, WANT ...

EK WEET JY JOK, WANT ...

Die slim truuks leer jou om te wéét wanneer iemand vir jou jok.

2010-01-04Maretha Botes

Hier is sewe tekens waarna jy kan oplet om vas te stel of iemand besig is om vir jou ? bogstorie op te dis.

... jou stem klink anders

As jou tienerseun se stemtoon skielik effense hoër is wanneer jy hom uitvra oor die sigaret-aansteker in sy hempsak, kan jy iets vermoed. Van al die tekens wat jou weggee wanneer jy jok, is stemtoon die grootste verraaier van die lot. As jy ’n leuen vertel, sal jou stemtoon ietwat hoër wees as wanneer jy ontspanne is en nié in ’n hoek gedruk voel nie. Wanneer jy klaar gejok het, sal jou stemtoon weer terugkeer na “normaal”.

... jy moet dink ... en dink ...

Wanneer jy vermoed die bouer het jou oorgekwoteer, vra hom om die bedrag uiteen te sit. Jy wil tog sien hoeveel wat gaan kos! As hy dan oor sy eie woorde val en lank na die papier voor hom staar voor hy ’n antwoord waag, is daar dalk ’n slang in die gras. Sodra jy dink dat iemand vir jou jok, probeer soveel as moontlik besonderhede uit hulle te kry. As jy jok, moet jy harder as normaalweg dink. Want jy probeer dalk die vorige jokstorie onthou, of ’n nuwe een opmaak. Jy moet kopkrap as jy jok.

... jy huiwer voor jy praat


As jy besorg wil weet hoe jou vriendin haar rug seergemaak het, en sy aarsel ’n ruk lank voor sy begin vertel, kan dit ’n teken wees dat sy jok. Heel moontlik sal sy kort-kort tussen sinne stilbly ... asof sy verwag jy gaan haar onderbreek en iets anders vra. In die hoop dat jy die onderwerp gaan verander. Wanneer jy jok, maak jy gewoonlik die storie op soos dit aangaan, daarom die dinkstiltes tussen-in! Jy gebruik die stiltes om te konsentreer op die storie wat jy aanmekaarslaan.

... jy sit roerloos

Jou lyf gee ’n hele paar tekens wanneer jy jok. Oppas, dis nie wat jy gedink het nie! Meeste mense dink dat ’n leuenaar ongemaklik sal begin vroetel. Maar jy sal al hoe minder jou voet skud of jou hande vryf wanneer jy begin jok, in plaas van angstige bewegings maak. Dis amper asof jou lyf afsluit wanneer jy aan jou leuen begin dink en dit te vertel. Dus, as jou seun ongewoon stil sit wanneer hy jou vertel hoe een of ander moegoe in jou geparkeerde motor vasgejaag het, moet jy dalk jou motorsleutels om jou nek begin dra ...
Ander lyftaaltekens wat moontlik wys jy jok, is wanneer jy oogkontak vermy, jou oë aanmekaar vryf, of heeltyd na ’n spesifieke ding staar.

... jy eggo en ontken

Wanneer jy jok, sal jy dikwels die persoon se vraag herhaal. As jy byvoorbeeld vir jou dogter vra: “Kom jy reguit na skool huis toe?” en sy antwoord “Hoekom wil ma weet?” ... kan jy maar seker wees, daar broei iets! Spekskieters sal ook eerder jou woorde herhaal as om jou ’n antwoord te gee. “Dit lyk of jy ’n ou vonkprop in my motor gesit het,” sê jy vir die motorwerktuigkundige. “Lyk dit of ek ’n ou vonkprop teruggesit het?” vra hy dan. En daar is natuurlik dié leuenaars wat dadelik op hulle perdjie spring wanneer jy hulle iets vra. “Beskuldig jy my van leuens? Dink jy ek sal vir jou jok?” kan moontlik hulle reaksie wees.

.. jou gedrag is vreemd


As alle getroude paartjies getrou was, sou privaatspeurders heel moontlik sonder werk gewees het. Eddie Bliss is ’n privaatspeurder in Amerika wat meesal moet uitvind wie verneuk vir wie. Hy meen dat wanneer jou maat skielik vreemd en verdag optree, moet jy maar begin rondkrap. Jou man kan byvoorbeeld skielik begin om baie netjies aan te trek, waar sy voorkoms om vroeër nie juis gepla het nie. Of hy werk langer ure, terwyl hy altyd stiptelik vyfuur by die huis was. Dalk begin hy sy selfoon vir jou wegsteek of dra dit heeltyd saam met hom sodat jy dit nie per ongeluk antwoord, sou dit lui nie. Dis gewoonlik nie net een ding nie, maar ’n paar goed wat saam verander, sê Bliss. Hy trek mooi aan, gebruik skielik lekkerruik-goed én werk elke aand laat ...

... jy is nie vandag JY nie

Wanneer iemand jou goed ken, kan hulle nog makliker agterkom wanneer jy jok. Jy weet byvoorbeeld dat jou kollega normaalweg vinnig praat en groot handgebare gebruik. Nou staan sy met haar hande langs haar sye en vertel jou stadig en duidelik hoe sy die verhoging gekry het en nie jy nié. Of jou vriendin vind dit normaalweg moeilik om in ander mense se oë te kyk wanneer sy met hulle praat. Maar nou voel dit skielik of sy jou pupille deurboor met haar staar terwyl julle gesels. Iewers is iets fout, daarvan kan jy seker wees! Sy weet dalk iets wat sy beslis nie vir jou wil vertel nie.

Soms vertel iemand iets vir jou, en jy kry so ’n snaakse gevoel wat jou waarsku dat iets nie reg is nie ... dinge maak net nie sin nie. En dit bly gewoonlik by jou spook. “Ek moes geweet het ...” sal jy dan dikwels dink wanneer jy besef dat iemand wel vir jou gejok het. Jy kan gerus maar daardie stemmetjie in jou binnekant vertrou. Al het jy nie veel kennis oor enige van die leuenverklikkertekens nie – veral as jy die persoon goed ken. Gee die persoon egter die voordeel van die twyfel terwyl jy genoeg inligting insamel om met sekerheid te weet of hulle wel jok. As jy iemand van ’n leuen beskuldig terwyl hulle eintlik die waarheid vertel, kan jy die verhouding baie skade aandoen.



argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]