ABC VAN 'N VAKANSIE VOL AKSIE!
Dis nie maklik om jou kinders die hele Desembervakansie besig te hou nie...
2009-12-10Shanda Luyt
Dis nie maklik om jou kinders die hele Desembervakansie besig te hou nie...
2009-12-10Shanda Luyt
Avontuur
Dit is die sleutel tot ’n reputasie as supercool ma as jy saam met jou tieners gaan bungee of die bruisende waters van ’n rivier aandurf in ’n binneband. Met jonger kinders kan jy meer gematigde avonture aanpak.
Bak en brou
Skryf saam met jou tiener in vir ’n kook- of koekversieringskursus. Daar is ook klasse vir die kleintjies beskikbaar.
Cool in ’n pretpark
Kies ’n pretpark wat geskik is vir jou kind se ouderdom, en word vir ’n dag weer kind. Lag saam en neem hope foto’s.
Dag in die dierewêreld
Gaan besoek een van die honderde krokodilplase, dieretuine, mini-wildtuine, slangparke, voëlparadyse of akwariums in ons land of gaan op ’n begeleide toer en bekyk krok se tande van naderby.
Eendag lank, lank gelede
Neem die kleingoed biblioteek toe vir die gereelde storie-uur terwyl jyself die kans benut om bietjie tussen die rakke te snuffel vir lekker vakansieleesstof.
Feetjiejag
Kyk uit vir ’n boom- of varingryke woud of park in die omgewing, rus jou kind toe met ’n netjie en jag feetjies.
Grotgenot
Suid-Afrika spog met ’n hele klomp indrukwekkende grotte en ook ’n aantal kleiner, minder bekende grotte. Vind uit wat daar in die omgewing is.
Hoe ry die trein
Daar is ’n verskeidenheid pretritte per trein beskikbaar reg oor die land. Vir jou kleuter sal ’n rit op ’n mini-stoomtrein in die parkie net so opwindend wees.
In ritme
Sluit as gesin aan by ’n dromwerkswinkel en leer hoe om Afrika-dromme te trommel dat die aarde bewe! Dis heerlik ontspannend en groot pret.
Jagtog na skatte
Gaan op ’n jagtog met ’n kamera – nie noodwendig net na diere nie, maar ook na interessante skulpe, insekte, munte, en so meer.
Klim en klouter
Bederf jou kleuter met ’n dag by ’n sentrum met ’n verskeidenheid klimapparate of beproef jou eie rots- of muurklimvermoë saam met jou laerskoolspruit.
Lasergevegte
Jou kleuter sal hierdie een moet uitsit, maar vir laerskoolkinders en hulle ouer boeties is dit ’n heerlikheid. Julle kan dit ook afwissel met verfbalgevegte (paintball).
Museumpret
Soek na ’n museum wat interaktief is. Kies volgens jou kind se belangstelling, soos ’n motormuseum vir jou kind wat meganies aangelê is of ’n speelgoedmuseum vir jou kleuter.
Natuuruitstappie
Ons land spog met van die mooiste natuurskoon in die wêreld. Vind uit watter lekker daguitstappies is beskikbaar in die omgewing en pak vir julle ’n rugsak vol lekker versnaperinge voor julle die wandelpad aandurf.
Onder die sterre
Besoek ’n planetarium en sien die ruimte deur ander oë. So sal jy en jou kind leer van die verskillende sterrestelsels terwyl julle heerlik agteroor kan lê en ontspan.
Pottebakkery
Skryf in vir pottebakkery en leer hoe om julle eie potte te maak en versier terwyl julle lekker gesels. Dis geskik vir alle ouderdomme en ’n heerlike kreatiewe projek om aan te pak.
Quiz
Hou die jongklomp besig in die aande met ’n vasvraekompetisie tussen twee families of sit die jonges teen die oues. Julle kan speletjies soos Thirty seconds of Trivial Pursuit gebruik daarvoor.
Ry Kyalami!
Soek julle naaste mini-renbaan, gespe julle valhelms vas en jaag! Dis heerlike gesinsvermaak om die enjins te laat brul.
Sandpret
As julle naby die see of enige ander groot duine is, gaan op ’n heerlike sandbordsessie waar julle speel-speel die duine afgly.
Teater toe
Die meeste teaters bied ’n uitstekende vakansieprogram aan propvol heerlike vermaak vir alle ouderdomsgroepe, van kleutertjies tot volwassenes.
Uitstappie plaas toe/stad toe
Vir ’n plaasjapie is daar min dinge so opwindend soos ’n ordentlike besigtiging van die groot stad, terwyl ’n stadsjapie dalk ’n ding of twee kan leer op ’n plaas.
Vlinderplaas
As dit ’n reëndag is, besoek die naaste skoenlapperplaas en verwonder julle aan hierdie mooiste van mooi versierings uit die natuur.
Waterpret
Wen die somerhitte; gaan swem, dryf met binnebande rivier af, ry branders in die see, gaan vang vis, ry branderplank of gaan roei.
X-treme sport!
Klim op julle bergfietse en verken die heuwels in die omgewing of gaan saam vir lesse om te leer skaatsplank ry. Gaan op ’n witwater-ekspedisie of gly met ’n foefieslide deur die woude.
Ysskaats
Kies ’n stil tyd om die skaatsbaan die eerste keer aan te durf en vra jou kinders gerus om jou te help om hierdie vaardigheid onder die knie te kry.
Zzzz onder die sterre
Om ’n aand te gaan uitkamp in die veld bly ’n heerlike avontuur vir die meeste kinders. Sit om die kampvuur, ruil spookstories uit, braai malvalekkers en skep herinneringe saam.
argief
GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.'N BETER HUWELIK ...
... teen SondagDANKIE PA ...
... Jy is altyd daarGELUKKIGE HUWELIK CHALLENGE
Hoekom moet ons tevrede wees met huwelike wat net so-so is, as dit SJOE! kan wees? Ons wil mos warm wees, nie flou nie, of hoe?OUDSTE, MIDDELSTE, JONGSTE
Hoe verstaan ek hulle?KOOK DIT IN DIE KOOI?
Of is jou kamer 'n yskas?WEES 'N SUPER-DUPER MA!
Celebs gee raadOEFEN JOU VERHOUDING BETER
... op vreemdelinge!JOU KIND SE EMOSIES
... sorg vir gelukkige kinders























