WANNEER ALS TE VEEL WORD ...
Wees gereed as jou vriendin op jou skouer kom huil
2009-09-22Maretha Botes
Wees gereed as jou vriendin op jou skouer kom huil
2009-09-22Maretha Botes
Die skok van egskeiding
Wat vir jou na ’n sprokieshuwelik gelyk het, het nou tot ’n rampspoedige einde gekom. Jou vriendin is ten grond. Haar ideaal om saam met die man van haar drome oud te word, lê aan skerwe. Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen en sê om haar lewe – ten minste vir nou – ’n bietjie makliker te maak.
DOEN DIT
• Sorg dat haar rekeninge betaal word. Dit bly maklik agterweë in so ’n deurmekaar tyd.
• Vra of jy haar wasgoed vir ’n week lank kan laat was en stryk by ’n wassery. Dit sal ’n groot las van haar skouers afhaal.
• Moedig haar aan om by ’n ondersteuningsgroep vir geskeide vroue aan te sluit. Jy is dalk ’n goeie en gewillige skouer, maar het nie die nodige ervaring wat ander geskeides haar kan bied nie.
• Koop vir haar ’n boks ekstra-sagte snesies.
• Sodra sy gereed is om te gesels sal sy jou wel laat weet. Maak spesiaal tyd hiervoor. Kry haar gunsteling-eetgoed en spesiale tee en laat haar weet jy is beskikbaar.
• Moet nooit die ander party aanval of lelik praat van hom nie ... Luister maar net as sy afpak.
SÊ DIT
• Sê jy gee om vir haar, maak nie saak wát gebeur nie.
• Wanneer sy moedeloos word, sê vir haar iets soos: “Jy is ’n sterk mens” of “Jy is die beste ma vir jou kinders” (as sy kinders het). Mense wat op die punt is om te skei voel soms asof hulle op alle gebiede nutteloos is.
Die seer van ’n kind se dood
Dis elke ouer se diepste, donkerste vrees. Besef dat niks wat jy sê of doen die seer beter gaan maak nie. ’n Kind se dood beteken die dood van ’n deel van jouself en die drome wat jy vir en saam met jou kind gehad het, en die verlies van ’n spesiale band tussen julle. Dis net nie natuurlik vir ’n ouer om ’n kind te verloor nie.
DOEN DIT
• Wees sensitief vir haar persoonlike ruimte. Dít beteken jy moet weet wanneer sy nodig het om alleen te rou en wanneer sy ’n skouer nodig het om op te huil.
• Verlig die las deur praktiese goed te doen. As daar ander kinders is, vra of jy hulle na hul aktiwiteite toe kan aanry, of jy familielede kan bel om reëlings te tref, of vra sommer jou vriendinne om elkeen ’n aand se ete voor te berei.
• Hou aan om daar te wees ná die begrafnis. Nou is die huis leeg en begin die groot gemis.
• Jou vriendin gaan dalk te moeg wees om haarself mooi te maak. Bespreek vir haar ’n lyfmassering of gesigbehandeling by haar gunsteling-spa. Wanneer die uiterlike mooi lyk, sal die innerlike ook gepamperlang voel.
SÊ DIT
• Vertel vir jou vriendin hoe haar kind jou lewe geraak het. Sy sal dit waardeer om te weet haar kind was ook vir iemand anders spesiaal.
Die wurggreep van ’n werk verloor
Om jou werk te verloor kan een van die grootste krisisse in enigiemand se lewe wees – jy verloor jou inkomste, stabiliteit en selfwaarde. Iemand wat werkloos is, gaan dikwels deur dieselfde rouproses as ’n persoon wat ’n familielid aan die dood afstaan.
DOEN DIT
• Die wêreld staan nie skielik stil nie. Probeer haar aanmoedig om ’n daaglikse roetine te volg, anders kan sy maklik in ’n groef van selfbejammering beland waar sy nie eens in die oggend wil opstaan nie.
• Wees deel van haar werksoek-netwerk. Moet egter nie die situasie probeer oorneem nie. Luister na idees en help om ’n werksoek-strategie te beplan.
• Sy het nodig om oor negatiewe en positiewe aspekte van die vorige werk te dink om voorbereid te wees op ’n volgende werksonderhoud. Help deur te luister. Vra uit oor doelwitte wat sy bereik het en probeer wegbeweeg van negatiewe herinneringe.
SÊ DIT
• “Ek wil jou graag ondersteun. Wat kan ek doen?”
Job Loss Survival Guide deur Jim Davis
argief
DIE EKS-FAKTOR
Rubriek vir geskeide vroue deur Natasha Sutherland.WEET JY WAT JOU MAN REGTIG HÊ?
Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê ...WAT ONNIES WIL HÊ OUERS MOET WEET ...
Jy kan jou kind se skoollewe baie makliker maak as jy weet hoe 'n onderwyser dink!WEES 'N SUPER-DUPER MA
Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir 'n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie.BETER HUWELIK, GEEN WOORDE
Dit lyk asof NIEverbale kommunikasie die geheim is!WATTER TIPE MA IS JY?
Dink jou kinders nog jy's die coolste ma ... of sê hulle jy is te streng, te verstrooid of heeltemal laf?HY MAAK MY SO KWAAD!
Is hy regtig die een wat die skuld moet kry vir jou woedeuitbarstings?OORLEEF JOU SKOONOUERS
Kersvakansies is pret, tot jy die dag trou en skielik twee families gelukkig moet hou!GETROUD MET KRIEKET
Krieketvroue Sally Wessels, Tricia Pollock en Elna Rudolph praat oor dít wat alles regtig agter die krieketskerms gebeur.'N OPLOSSING VIR EGSKEIDING?
In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom van mense wat skei tussen 38 en 41, en die meeste skei na 9 jaar.


.jpg)




.jpg)

















