22 ABC VAN KOEITJIES & KALFIES jou mense Articles www.voelgoed.co.za

ABC VAN KOEITJIES & KALFIES

ABC VAN KOEITJIES & KALFIES

Wees só die sosiale vlinder by enige geleentheid

2009-09-10Karin Botha

My vriendin vertel die volgende oor haar nuwe baas wat ’n bietjie korter as sy is: “Wanneer ek sy toestemming vir ’n projek moet kry, trek ek ’n sagte, vroulike rok aan, met plat skoene sodat ek nie bo hom uittoring nie. Ek simpatiseer eers oor sy reuse-werklading, gesels oor sy lekker vakansie en oor sy kinders se prestasies. Sodra hy gemoedelik is, vra ek my groot vraag. Dis dan soveel moeiliker om nee te sê.

Maar wanneer ek die dag my standpunt wil laat geld, trek ek my hoogste hakskoene en my swart baadjiepak aan: my ‘jy durf my nie teëgaan nie’-voorkoms, en dit werk keer op keer!”

Ons is egter nie almal geseën met dié sintuig wat maak dat jy kry wat jy wil hê nie. Veral sosiale geleenthede kan hulle glans verloor en in ’n nagmerrie ontaard as jy nie die regte woorde kan kies nie ... en beny jy net nie jou sus of kollega wat altyd ander om haar pinkie kan draai nie.

Om te sorg dat jy darem nie heeltemal die muurblommetjie by die dans, werk en kerk word nie, volg die eenvoudige riglyne op die volgende bladsy tydens sosiale geleenthede.

Jou man se werkspartytjie (saam met die BBP’s)

NAGMERRIE:
Jy het gekies om nie voltyds te werk nie en eerder tuis te bly in die belang van jul kinders. Nou voel jy bietjie uit jou plek ...

WAT OM TE SÊ: “Hoe beïnvloed al die vakansiedae (of Kersfees, Paasfees) jul werklading?”

WAAROM DIT WERK: Om oor die kantoor te praat is ’n relatiewe veilige onderwerp. Sorg net dat dit nie in ’n geskinder ontaard nie. Dit lei ook die gesprek in ’n rigting waar jy nie oor jou en jou man se persoonlike lewe hoef te praat nie. Wees versigtig om in jou senuweeagtigheid te diep in die sjampanjeglas te kyk. Om in ’n onbesonne oomblik vir jou man se baas te vertel dat hy eintlik onderbetaal is, is nie ’n goeie idee nie.

Jou kind se skoolkonsert

NAGMERRIE: Al die mammas lyk of hulle beste vriendinne is. Terwyl hulle gesels sit jy en wag dat jou kinders tog net so gou as moontlik op die verhoog kan verskyn sodat jy kan huis toe gaan.

WAT OM TE SÊ: “Is dit jou seuntjie wat Josef speel. Hy is so oulik!”

WAAROM DIT WERK: Daar is nie een persoon op die aarde wat nie daarvan hou om oor hul kinders te praat nie. Jy moet net hoop dat die vrou met wie jy gesels sensitief genoeg is om nie vir ure oor haar bloedjies aan te gaan sonder om jou oor jou kinders uit te vra nie. Nogtans, al praat julle net oor jul kinders, is die ys gebreek vir die volgende skoolbyeenkoms en kan jy ook lyk of almal jou vriendin is!

’n Familiesaamtrek

NAGMERRIE:
Ons was al almal daar: ’n familiegeleentheid waar almal desperaat is om iets slim te sê.

WAT OM TE SÊ: “Watter interessante dinge het jy vanjaar gedoen?”

WAAROM DIT WERK: Wanneer jy met familie gesels wat jy nie dikwels sien nie, is dit beter om nie vrae te vra wat té persoonlik is nie. Hou jou vrae vaag en oop sodat jou familie die meeste van die praatwerk doen. Om jou aangetroude niggie se matriekdogter te vra of sy universiteitstoelating gekry het terwyl haar matriekpunte beroerd was, kan ’n groot verleentheid veroorsaak. Dikwels speel wedywering ook ’n groot rol wanneer oumas en oupas oor hul kleinkinders praat. Wees dus maar versigtig wanneer jy die inligting as aanknoping wil gebruik.

Wanneer jy vriende van vriende ontmoet

NAGMERRIE: Deur jou vriendin weet jy eintlik alles van haar ander vriendin af: haar rampspoedige huwelik en uiteindelike egskeiding. Sy weet waarskynlik ook ’n paar dinge van jou wat jy nie graag aan die groot klok wil hang nie. So wat sê jy vir haar wanneer jy haar vir die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet.

WAT OM TE SÊ: “Ek en Heleen het mekaar in die gym ontmoet en sommer dadelik aanklank by mekaar gevind. Waar het julle mekaar leer ken?”

WAAROM DIT WERK: Julle het reeds een ding in gemeen: Julle deel ’n vriendin, wat ’n wonderlike aanknopingspunt! As hulle saam op skool was, vra haar watter tipe mens jou vriendin in haar tienerjare was? Of as hulle saam gewerk het, hoe sy as ’n kollega was. Eindelik sal jy ook jou stories kan deel en na alle waarskynlik sal dit nie te lank neem voordat julle voel julle is ook al jare vriendinne nie!

argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]