22 MY MAN VERNEUK MET BELASTING jou mense Articles www.voelgoed.co.za

MY MAN VERNEUK MET BELASTING

MY MAN VERNEUK MET BELASTING

Wat moet ek doen as my man knoei en ek daarvan weet?

2009-08-17Floris Knouwds

Wanneer huwelikskenners oor die belangrikste redes vir egskeiding gesels, word geld telkens as een van die top vyf genoem. Die probleem is egter nie geld in sigself nie. Dis eerder verskillende houdings oor geld en oor die gebruik daarvan wat die probleem is. Indien ‘n egpaar se liefde vir, waarde van en voorkeure oor geld en die besteding van geld verskil, lei dit dikwels tot spanning en konflik in ‘n verhouding.

Kan ek dit effens anders stel? Die verskille in julle benadering tot en houding teenoor geld en geldsake kom tot uitdrukking in praktiese botsings oor sake soos die invul van belastingvorms en versekeringseise. Dan is die versoeking om jou maat te probeer oortuig of verander om soos jy te dink en te doen. Ongelukkig is die gevolg hiervan dikwels vervreemding in die verhouding.

Daarom is die belangrike vraag wat jy moet vra: “Hoe kan ek hierdie botsing in waardes hanteer dat dit beide ‘n positiewe invloed op my maat PLUS op ons verhouding het?”

Die antwoord op hierdie vraag is eintlik eenvoudig: Julle moet ‘n oop, eerlike gesprek oor die dieperliggende verskille hê! En daarna moet jy hom steeds die vryheid gee om sy eie keuses te maak – selfs al voel dit vir jou verkeerd.

Moeilik? Beslis. Onmoontlik? Beslis nie.

Daarom gaan ek ‘n paar riglyne gee wat kan help:

1.    Maak ‘n definitiewe afspraak (tyd en plek) met hom om oor die saak te gesels.
Maak egter baie seker dat hy weet dat jy wil gesels oor die probleem wat dit vir jou skep as hy skynbaar oneerlike dinge doen wanneer dit by versekeringseise en belasting kom.

2.    Probeer eers om hom en sy standpunt te verstaan. Die beste manier om dit te doen, is deur ‘n eenvoudige formule te volg wanneer jy die gesprek inlei:

a.    Begin met ‘n eerlike beskrywing van wat jy waarneem – sonder om hom op enige manier te veroordeel. Iets soos: “Wanneer jy die belastingvorms invul, sien ek dat jy…… doen.”

b.    Gee ‘n aanduiding van die effek wat dit op jou persoonlik het. Jy kan byvoorbeeld sê: “Wanneer jy dit doen, voel dit vir my asof dit oneerlik is en kry ek swaar om dit goed te keur.” Op hierdie punt is dit belangrik om oor jouself en jou belewenis te praat – nie oor wette of Bybelse riglyne of eise wat jy wil stel nie. Net jou eerlike belewenis van wat hy doen en die effek daarvan op jou.

c.    Gee erkenning dat jou belewenis dalk skeefgetrek kan wees.

d.    Vra hom om jou te help om te verstaan hoe hy oor die saak dink en hoekom hy die dinge doen wat hy doen.

e.    Luister noukeurig en kontroleer of jy hom en sy optrede reg verstaan. Onthou: die idée is om hom beter te verstaan – nie om hom te verander nie.

3.    Vra sy instemming dat jy vir hom kan verduidelik hoe jy oor die saak dink en voel.

4.    Verduidelik hoe jy oor die saak dink en voel – sonder om oor hom te praat of oor hoe verkeerd sy aksies is. Jy mag maar sê dat dit vir jou persoonlik verkeerd voel of dat dit teen jou beginsels indruis. Solank jy net oor jouself praat en nie probeer om vir hom uit te wys dat hy verkeerd is nie.

5.    Vra hom hoe hy verwag dat jy in sulke situasies moet optree.

Ter wille van die verhouding is dit in aanvanklik nodig om net op een doel te fokus, naamlik om hom beter te verstaan. En hom (soos ‘n volwassene) toe te laat om van jou te verskil en sy eie keuses te maak. Deur hierdie pad te loop, gee jy julle verhouding die beste kans en kan jy hom subtiel beïnvloed om sy standpunte en gedrag op sy eie tyd te heroorweeg. In latere gesprekke oor die saak, kan jy dan met hom gesprek voer oor die meriete van en/of beginsels rondom sy redenasies en gedrag.

Kommentaar

gesels saam


argief