NIKSDOEN IS GOED VIR JOU!

NIKSDOEN IS GOED VIR JOU!

DIS VAKANSIE en tyd vir niksdoen – of ten minste lekker dinge doen!

2011-12-02

Ons almal smag na daardie dae wanneer jy net niks hoef te doen nie. Tog wanneer daardie dae aanbreek voel jy so skuldig om nét niks te doen nie. Beweeg stadiger deur die lewe, bederf jouself met dinge wat saak maak en geniet net die lewe. Dit is noodsaaklik vir jou sielevrede en geluk! 

   
DIS VAKANSIE en tyd vir niksdoen – of ten minste lekker dinge doen! Tog voel die meeste van ons skuldig as ons onsself die weelde daarvan gun. Dag na dag word ons deur die ellelange doenlysies in ons lewe voorgesê. Maar soms is die produktiefste aktiwiteit wat jy kan doen, om in ’n hangmat te lê en na die wolke te kyk. Die voed jou menswees en is goed vir jou gesondheid!

Skuldig voel? Watwou!


Woorde soos: “Ek kan nie”, “Ek mag nie” en “Wat gaan die mense sê?”, demp vroue se lewensvreugde weens skuldgevoelens. Maar jy het die reg om daardie “lysies” soms diep weg te bêre en op te hou skuldig voel.

Hier is ’n lys van dinge wat jy maar MAG doen sonder om skuldig te voel:

1.    Neem ’n dag verlof en gaan fliek of geniet ’n rustige ontbyt alleen.

2.    Klim vroegoggend terug in die bed met ’n tydskrif of jou eie gedagtes as geselskap. En as jy wil, loop die hele oggend in jou pajamas rond. Dit is nogal bevrydend.

3.    Jy hoef nie ’n loopbaan te hê nie en nog minder die “baas” van ’n maatskappy te wees, solank jy net gelukkig en tevrede is. 

4.    Administrasie, e-posse, liassering, fotoprojekte is nie lewe-en-dood-sake nie. Nooi eerder ’n vriendin vir koffie of middagete. Vriendinne anker jou en help om jou in voeling te bly met die vrou wat jy was voordat jy eggenoot/ma/sakevrou geword het.

5.    Moenie eers wonder of jy ’n pedikuur, manikuur en haarsny verdien nie. Laat doen dit! Jy is dit werd.

6.    Geniet ’n romantiese aand uit saam met jou man. Jou huwelik is baie belangriker as die feit dat Buurvrou of Ouma weer die kinders moet oppas.  

7.    Boeke is ’n belegging in jou menswees. Hou op skuldig voel en geniet die vreugde om nuwe mense en plekke relatief goedkoop te ontdek.  

8.    Om doelloos in ’n winkelsentrum rond te dwaal is goeie terapie vir jou sintuie en vervul jou behoefte aan die estetiese, veral dekor- en klerewinkels. Al sit jy net en mense kyk, is dit ’n wonderlike manier om jou kop skoon te kry.

9.    Stoot soms die opvoedkundige/stimulerende aktiwiteite opsy en geniet ligsinnige afleiding, soos om net te lê en TV kyk.

10.    Werkende ma of tuisbly-ma? Wat maak dit saak? Die belangrikste is dat jy jou kinders liefhet en hulle dit weet.

11.    Of jy ’n ma is, werkend is en ’n sperdatum het wat loer, moenie jouself die voorreg ontsê om ’n week op die Griekse Eilande deur te bring nie. Geniet die ervaring. Daar sal tyd wees om op datum te kom as jy weer terug is by die huis.

12.    Die lewe is te kort om jouself klein plesiertjies te ontneem. Geniet daardie sny koek! (Goeie verskoning om daarna in die veld te gaan stap.)

13.    Die kombuis/vensters/vloere/motorhuis gaan weer vuil word, so, laat dit ’n bietjie agterweë en geniet ’n wandeling deur die tuin of gaan stap om die blok of skryf weer ’n brief met die hand.

14.    As jy siek is, is jy siek. Basta! Maak vrede daarmee en bly in die bed. As jy jouself nie oppas nie, gaan jou werk en geliefdes in elk geval daaronder ly. Jou kollegas en huismense is meer as genoeg in staat om vir ’n dag of twee uit te help. 

15.    Word weer kind. Skop die bal, slaan bollemakiesie, vlieg ’n vlieër, sit op die swaai en ervaar die onbevange genot van net in die oomblik te wees. As volwassenes is ons gans te ernstig!

16.    As jy ’n harde dag/week/maand agter die rug het, verdien jy ’n ruskans en dit het niks met luiheid te make nie. Geniet die ervaring met oorgawe.

17.    Jy kan niks aan gister doen nie, nog minder waarde tot jou lewe toevoeg deur oor jou onbenullighede te bekommer. Fokus op die nou en geniet vandag!


Madaleen Steenkamp, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein, sê vroue is geneig om regte “dienende Marthas” te wees wanneer dit by die bevrediging van ander se behoeftes kom, terwyl sy die belangrikste persoon van almal ignoreer: haarself!  “As jy ’n gelukkige, vervulde vrou wil wees, moet jy seker maak jy kyk ook na jou eie behoeftes,” sê sy.

Twee Amerikaanse dokters, dr. Madelin Vann (algemene praktisyn) en dr. Charles Goodstein (psigiater) stem saam. “Dit is maklik om in die gewoonte te verval om te wil presteer en altyd daar vir ander te wees, maar jy doen jouself baie skade aan. ’n Moeë ma/vrou/werker beteken niks vir enigiemand nie. Kyk dus na jouself.”

Begin sommer vandag en neem Madaleen se slotwoorde ter harte: “Wees lief vir jouself, nes jy die mense in jou lewe liefhet. Jou behoeftes is net so belangrik soos jou huismense s’n, heg waarde daaraan en doen soms wat JY wil. Jy is dit werd!”

Kommentaar
  • Baie keer is dit ons eie skuld - ons sit onself onder teveel druk. ons probeer om beter vir ons mans te wees as ander vrouens is met hul mans, ons probeer om beter vir ons kinders te wees as ons ouers was vir ons. Ja al die goed hierbo klink baie maklik, maar in ons eie lewe is dit nie so maklik nie. MAAR - ons het 'n keuse - of kan ons hulpeloos se dat ons 'kan nie tyd af vat nie', of kan ons die stuurweel in ons eie hande vat en vat die tyd vir onself. Die grootste verskil tussen mense en diere is keuse - ons het die krag om te kies as ons die 'victim' wil wees, of nie. Wanneer laas het jy sommer net op die gras gaan le en na die goggas en voels gekyk? Wanneer laas het jy jou hande in die grond gesit om a nuwe plant te plant? Wanneer laas het jy gedans? Ek het besliut om in 2012 'n klein bietjie meer 'selfish' te wees met my tyd. Ek gaan doen wat ek wil doen, en nie meer wat van my verwag is nie. Ek bid dat die Here met elkeen van julle dames sal wees hierdie Kers seisoen. Charmaine
  • Dankie, dis net wat ek nodig het. My man het demensia en het hom netnou vir my gewip en het by die deur uitgegaan om te gaan stap, ons bly in 'n sekuriteitskompleks en die man skakel my en se my man het die pad gevat. ek wip my toe en besluit hy kan in sy maai in gaan. MAAR eers kom een buurvrou na my in angs en se sy het my man gesien langs die pad. sy is nog by my toe kom 'n ander vriendin en se dieselfde. ek se toe ek weet ek sal nou hom gaan haal. ek ry en kry hom op ons roete wat ons gewoonlik gaan stap. hy weier om in te klim. ek ry huistoe. 'n vriendin se kind sien hom en los haar kar langs die pad en stap die hele tyd agter hom aan tot by die kompleks. ek wil hom vermoor so kwaad is ek vir hom maar hy is siek in sy brein!
    ek het nodig om weg te kom vir 'n paar ure. al wat my gaan red is om hom 'n slaappil in te jaag en dan in 'n fliek te gaan sit met popcorn. groetnis
  • als klink so maklik, maar hoe skakel jy jou brein af, want alhoewel jy rustig is met ontbyt of daai stuk sjokolade koek hardloop jou brein oor wat te maak vir aandete, jy moet nog 'n draai by die winkels gaan gooi, wie volgende verjaar, het jy ondhou om daardie e pos te stuur wat jy moes ens ens??
  • ek dink al hoe 'n vrou haar brein kan afskakel is om die gordyne dig toe te trek, telefoon af te sit, kamerdeur toe te maak en 'n lekker slapie te vang! As jy daar opstaan het jy soveel energie dat jy sommer vinnig vinnig aandete aanmekaar slaan, winkels toe gaan en daai epos stuur! wen wen situasie?

gesels saam


soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]