KEER SÓ DAT JY UITBRAND

KEER SÓ DAT JY UITBRAND

Uitbranding is iets wat deesdae al meer en meer met vroue gebeur. En dit is nie omdat jy soveel skoene moet volstaan nie.

2011-11-15

Nee wat, daaraan is jy al amper gewoond. Dit is daardie dryfkrag in jou binneste wat jou grootste vyand raak. Die oorpresteerder. Meer. Nog. Beter.

Natuurlik is dit goed om met jou talente te woeker en die beste mens te wees wat jy kan. Maar ten koste van wat? Jy ís nou getroud, ma van twee, bestuurder by jou werk ... wat is volgende?

In haar boek, Die Breinboek vir Vroue, verduidelik Shani Grové dat jy moet stop at the top! Elke keer wanneer jy ʼn projek voltooi het, hou bietjie op, geniet wat jy bereik het, haal asem. Waardeer. Maar in hierdie gejaagde wêreld van ons is dit so moeilik om briek aan te draai. Want net-nou raak jy agter.

Om te keer dat jy die volgende persoon is wat in die hospitaal beland as gevolg van stres, maak hierdie deel van jou lewe:

Wees realisties!

Jy is nie Superwoman nie. As jy in die spieël gaan kyk sal ʼn gewone vrou met twee arms, twee bene, en een lyf sien. Hoewel jy soms oë agter jou kop het, is jou superpowers beperk tot die vermoë om te ruik wanneer die rys brand en te weet stilte in die speelkamer beteken moeilikheid!

Hoekom wil jy so graag alles kan doen? Al is dit moeilik om te glo, is daar genoeg ander mense op aarde om daardie dinge te doen waarby jy nie uitkom nie. Jy hoef ook nie altyd soos daardie dun, sexy modelle te lyk met die gedoende hare nie. Hulle lyk soos hulle en jy lyk soos jy. Die tyd en energie wat jy mors om jou boerelyf in stywepyp jeans te druk, kon jy gebruik het om jou kind ʼn drukkie te gee, saam met jou man koffie te drink, of in die tuin met die hond te speel. In plaas daarvan om jou lyf by jou idees te laat pas, laat jou idees by jou lyf pas!

Ken jouself

Wanneer jy jouself aanmekaar forseer om iets te doen waarvoor jy nie ʼn natuurlike talent het nie, gaan jy moeilikheid optel! Dink mooi oor jou werk. Is dit van son-op tot son-onder vir jou een lang uitgerekte marteling? Dan is dit dalk tyd dat jy die klem van jou beroep verskuif. Jy hoef nie noodwendig heeltemal van loopbaan te verander nie. Maar dalk is dit vir jou baie lekkerder om byvoorbeeld geleenthede te bemark as om dit self te reël.

Vind uit wat dit is wat jou energie gee, wat jou laat lewe. Want jy gaan baie energie nodig hê om jou volle potensiaal te bereik. Waaroor droom jy wanneer jy alleen sit en koffie drink? Herinner jouself daaraan dat baie mense se “mal idees” vandag van die grootste suksesverhale is. As jy sukkel om te weet wie jy is ... gaan jy sukkel om JY te wees. En wanneer jy jou lewe deur iemand anders “speel” gaan jy beslis moeg, gedaan en uitgebrand voel.

Jy is nommer EEN!

Jy kan nooit jou eie volle  potensiaal bereik as jy heeltyd gemoeid is met almal om jou se doen en late nie. En as jy nooit jou eie potensiaal bereik nie, sal jy nooit iemand anders kan inspireer nie.

Rus wanneer jy moet, breek vir ʼn paar minute weg – of vir ʼn hele naweek. Gee aan jouself wat jy nodig het om te groei, sonder om dit uit proporsie uit te doen!

ʼn Swemmer wat nooit opkom vir asem nie, gaan verdrink voordat hy die wenstreep haal, al lyk dit aanvanklik of hy vinniger as die ander swem. Moenie dit aan jouself doen nie. Skep asem, want dit laat jou ongeskonde anderkant uitkom. Wanneer dit vir jou voel asof jou lewe uit beheer uit begin spin, kry professionele hulp. Daar is mense wat opgelei is om jou te help. Doen dit eerder gouer as later, want die wêreld het meer mense nodig wat glimlag, en minder mense wat moeg en moedeloos is. Gee jouself ʼn bietjie grasie! Want JY is die enigste een wat dit kan doen.

Ken die simptome

•    Wanneer jy besig is om jouself uit te brand, is jy gedurig moeg. Dodelik moeg. Maar wanneer jy tussen die lakens inkruip, sukkel jy soms om te slaap. Jy kan beswaarlik die volgende oggend opstaan en wil in trane uitbars wanneer iemand jou vra om iets te doen. Jy byt ook elke tweede persoon se kop af vir geen rede nie.

•    Hoe nader jy aan uitbrand kom, hoe meer sal jy jouself isoleer. Jy sal altyd ʼn verskoning gereed hê om nie mense te sien nie. Jy sukkel om deel te neem aan ʼn gewone gesprek, en sal maklik jouself van ʼn vergadering of ander werksgeleentheid verskoon. Afwesigheid is iets waaraan jy begin gewoond raak. Jy sukkel jou morsdood om op enigiets te konsentreer.

•    Daar hang ʼn donker wolkie oor jou kop en alles lyk vir jou swaar. Jy is nie seker wat met jou aangaan nie, maar jy voel dag en nag depressief. Jy raak ook gedurig siek, en jy kan net nie van daardie verkoue ontslae raak nie.

Moenie die simptome ignoreer nie. Dit is jou lyf se manier om vir jou te sê: “Wouw! Jy gaan my uitbrand!” Luister daarna.

Kommentaar
  • Dis als goed en wel, maar wie is die professionele mense wat jou kan help? Als het n prys, selfs raad. Iemand wat jou kan help om uit te vind wie jy is, so ook iemand wat jou kan help om uitbranding teen te werk, het almal n fooi wat meestal nie gedek word deur n mediese fonds nie. Life Coaching is n luukse, nie iets wat elkeen kan bekostig nie, maar iets wat meeste mense benodig. EN as jy dit kan bekostig, weet jy nie waar om te begin soek nie. Die artikel is informatief ja, maar waarheen dan?

gesels saam


soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]