GELUKKIG ÉN TEVREDE!
Wanneer is jy régtig gelukkig?
2011-08-26
Wanneer is jy régtig gelukkig?
2011-08-26
Is dit wanneer jy alles het wat jy nog altyd wou gehad het – huis, geld, klere? Of wanneer jy jou ideale gewig bereik het en lyk soos jy nog altyd graag wou lyk? Is dit wanneer jou kinders en jou familie by jou is? Of wanneer jy die hoogste posisie bereik het in jou werk? Of is werklike geluk dalk dit wat Kenneth Smith in sy boek Learning To Be a Woman skryf: “’n Vrou word werklik ’n vrou wanneer sy dít word wat God haar geskep het om te wees.”
Hoe word ’n vrou “dit wat God haar geskep het om te wees” in ’n tyd waarin sy gedurig in die media sien en hoor hoe sy behóórt te lyk en hoe sy behóórt op te tree? Sue Brayne, psigoterapeut en skrywer, skryf onlangs: “Ek glo geluk word gesmaak wanneer jy besef dat alles wat jy doen en alles wat jy het, in een oomblik bymekaarkom. Tevredenheid is egter ’n ander saak: Jy kan dit net bereik wanneer jy jou beperkings aanvaar en ophou om iemand te wees wat jy nie is nie.”
Breek weg van al die vooropgestelde idees, ontmasker hulle as wêreldse reëls en wees jouself – soos jou Skepper jou bedoel het!
Kyk konflik in die oë
Bill en Lynne Hybels skryf in hulle boek Fit to be Tied: “Konflik word veroorsaak deur klein opgehoopte irritasies wat nie onmiddellik opgelos word nie. Sommige egpare vermy konflik in die hoop dat dit sal verdwyn. Die waarheid is dat broeiende irritasies net groter konflik veroorsaak.”
“Vredesgesprekke” het vir hierdie egpaar nog altyd in die hantering van konflik in die huwelik gewerk. Man en vrou moet eerlik en openhartig gesels oor wat hulle pla of irriteer – dit kan wissel van ongewaste motors tot etes wat nie betyds reg is nie.
Paulus skryf in Efesiërs 4:26 ons moenie dat die son ondergaan as konflik nie opgelos is nie. Petrus waarsku in 1 Petrus 5:8 dat die duiwel soos ’n brullende leeu rondloop, op soek na terreine in jou lewe waarop hy jou kan aanval. As jy woede laat broei, skep jy dalk net daardie oop deur waarvoor hy gelê en wag het. Daarom is jou gesindheid in enige konfliksituasie van die uiterste belang. Probeer ’n slag Salomo se raad: ’n Sagte antwoord kalmeer die een met wie jy praat.
Waag dit om te waag
Wanneer laas het jy soos ’n akrobaat die hoogtes aangedurf, sonder ’n bekende veiligheidsnet onder jou? Dis hoe dit soms voel as jy in geloof ’n opdrag van die Here gehoorsaam!
In haar boek The Confident Woman beskryf Joyce Meyer dapperheid nie as die afwesigheid van vrees nie, maar om ten spyte van vrees steeds voort te gaan.
Bybelse vroue soos Ragab en Rut en Ester het ook tye van onsekerheid en vrees vir die onbekende deurgemaak terwyl hulle in geloof opgetree het. Koningin Ester het haar lewe gewaag om ongenooid by die koning op te daag. Ragab, die prostituut, het haar lewe gewaag om Josua se spioene te versteek. Rut het alles wat vir haar bekend was, agtergelaat en saam met haar skoonma, Naomi, Betlehem toe gegaan.
As jy weer in ’n situasie kom waar ’n opdrag van die Heilige Gees nie vir jou sin maak nie, is daar net een oplossing: Gee dit vir die Here en vertrou Hom vir ’n antwoord. Gee jy net die eerste tree.
Jy is uniek
“Dit maak nie saak hoe goed jy lyk of hoe talentvol of slim jy is nie, daar is altyd iemand wat beter is as jy.” Só skryf Joyce Meyer in haar boek Lyk goed, voel fantasties. “Ons geluk moet dus nie daarin gevind word dat ons beter as ander is nie, maar eerder dat ons die beste is met wat ons tot ons beskikking het.”
Ons is geneig om onsself met ander te vergelyk – gewoonlik met dié wat mooier, beter, ryker as ons is. Miskien het jy in die gimnasium of in die winkel die vrou voor jou se bene met afguns dopgehou (en begeer). Of dalk jou bure se nuwe motor (toevallig ook jou gunsteling), of jou vriendin se “romantiese” man of “oulike” kinders...
Die Bybel leer ons in Eksodus 20:17 om niks van iemand anders te begeer nie – nie hulle talente, voorkoms, persoonlikheid of enigiets anders nie. Beteken dit dan dat jy nooit na ander se goed en prestasies mag kyk nie?
Joyce antwoord: “Iemand anders kan wel vir ons ’n voorbeeld wees, maar dit mag nooit jou standaard word nie” – want dan verloor jy jou uniekheid. Aanvaar wie en wat jy is, en werk daaraan om te groei en die mens te word wat God jou geskep het om te wees.
Jy is nie tweede beste nie
Sommige vroue raak so vasgevang in die stryd om bo uit te kom of in die keuse tussen gesin en loopbaan dat hulle Spreuke 31 miskyk, wat daarvan praat dat ’n vrou beide kan hê, mits sy nie haar gesin afskeep nie.
Joyce Meyer beskryf vroue in haar boek The Confident Woman as “kreatief, sensitief, intelligent, talentvol en volgens die Bybel, gelyk aan die mans”. En omdat die meeste mans logies-georiënteerd en die meeste vroue gevoelsgeoriënteerd is, kan hulle ’n uitstekende kombinasie in die werksplek wees – indien hulle mekaar as gelykes respekteer.
In plaas van om te baklei vir ’n plekkie in die son of om bo uit te kom, moet jy besef dat net die Here jou regtig kan verhef. Hy belowe mos in Psalm 37:3-5 dat Hy jou die begeertes van jou hart sal gee as jy Hom vertrou. Werk daarom elke dag asof jy dit net vir Hom doen.
Buite beheer is binne beheer
Die meeste van ons dink dat ’n mens jou lewe in plek het as alles onder beheer is. Dis onwaar! Lisa Bevere het ’n boek hieroor geskryf: Out of Control and Loving It. Sy sê dat jy juis nié vry is as jy in beheer van jou lewe is nie. “Diegene wat in beheer van hulle lewens, verhoudings en omgewing is, (is) soms juis dié wat eintlik in gevangenskap is omdat die vryheid wat hulle soek, van hulle weggeneem word,” skryf sy.
Dis net as jy totale beheer oor jou lewe vir God gee dat jy werklik vry word. Jesus sê: “Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry” (Matt. 16:25). God wil hê jy moet jou lewe heeltemal vir Hom gee en vir ’n slag buite beheer wees – sodat Hy in beheer kan wees.
Laat los daardie toutjie – en geniet jou vryheid!
Jou verlede is verby
Robin McGraw, vrou van die bekende dr. Phil, het in ’n huis met ’n alkohol- en dobbelverslaafde pa grootgeword. Sy skryf in haar boek Inside my Heart: “My doel met hierdie boek is om mense te vertel van die krag om jou lewe te kies, eerder as om dit te vat soos dit kom … nie dat jy dieselfde keuses as ek sal maak nie, maar keuses wat die beste vir jou is.” Sy het die waarde van keuses besef.
Sommige mense se verlede verhinder hulle om ’n toekoms wat vol lig is, te kan raaksien. Moenie toelaat dat jou skuldgevoel oor die verlede jou verblind vir God se beloftes nie. Hy belowe mos in Jesaja 1:18 om jou van skarlakenrooi (vol sonde) na spierwit soos sneeu te was.
Ken God in alle besluite wat jy moet neem – Hy belowe immers om die stem agter jou te wees wat sê: “Hier is die pad, loop hierlangs” (Jes. 30:21).
Dis ’n voorreg om vry te wees en keuses te mag maak. Kyk na jou verlede, maar maak jou keuses in die hede en sien hoe dit jou omstandighede van môre kan verander. Jy is nie ’n slaaf van die verlede nie.
Bron: Kellyengland.com
Wilma le Roux
- my man het my `n jaar verneuk met `n ander vrou, en alhoewel ons nou weer probeer,kry ek nie die spoke weggejaag nie.Elke keer as iets gebeur ,kry ek weer die reuk van die verlede, toe dit so was of dat sus.Selfs datums ,soos die 12de sept toe ek van die verhouding uitgevind het,of 16 Julie,my dogter se verjaarsdag, toe die verhouding begin het, of Strandfontein, waar hul `n romantiese naweek gehad het.Ek wil nooit weer strandfontein toe gaan nie,en die ergste is dat my man steeds sekere goed vir my wegsteek, of al vergeet het hoe dit nou weer gebeur het of wanneer dit gebeur het,dit voel of die skelmheid van die verneuk en leuens my so verneder het, dat ek net verlos sal word as ek als 100% weet.Maar ek sal self die keuse moet maak om die verhouding in die verlede te los,anders gaan die verlede ook die hede opneuk.En ek sal moet vergewe,en dit beteken op `n nuwe blaai begin skryf,wat moeilik is en ek kry dit nog nie reg.Maar ek bid dat God my moet help.
- ek bid ook saam met jou vriendin. God alleen is die een wat jou verlede kan wegwas. Jou man help ook nie veel nie want hy is die een wat met die res van sy lewe vir jou moet wys dat hy dit wil laat werk. Ek was ook al daar en dank God dat ek en my man alle Vullis kon uitpraat het en ek dit in 'n gedenkbeeldige Fles gesit het en in die Verste en Diepste see gegooi het. Elke dag is 'n nuwe dag en daar kom dae wat Satan my wil verpletter maar hy lieg, ek is /was reeds vandagin so 'n lae bui maar kyk waar eindig ek op, by Finesse wat my inspireer. Tel jou kop op, jy kan en as hy nie wil "daar wees nie" maak die besluit en beweeg aan. Ons is koningsdogters en my Pa die Koning. As 'n man, (mense) jou nie kan waardeer nie is dit hul lost. Hoop jy het 'n geseendag dag.
- Ek weet waarvan jy praat... My man het dieselfde aan my gedoen. Nie net 1 keer nie, maar 2 keer. Die ergste was dat die 1ste keer met my suster was. EK kon hom nie vergewe vir wat hy 2 keer aan my gedoen het nie!!! Romantiese naweke in die Kaap en wie weet waar! Ek wou antwoorde he, waar, wanneer, wat, hoe! My broer het vir my baie goeie raad gegee en gese "Sus, wat wil jy met ALLES doen" Dit is so waar, ek het al minder vrae begin vra en begin vrede maak met wat ek wel weet. Jy sal NOOIT OOIT 100% alles weet nie. Spoke gaan daar wees, maar sit die lig aan en jaag die spoke weg. Dink aan die mooi op jou dogter se spesiale dag en nie aan die lelik nie.Hy het jou gekies, jy is die lig in sy lewe, nie die spook nie. Onthou ook dat jy nooit oordeelkundige besluite kan neem as jy so deurmekaar is nie. EK bid saam met jou.
- Hi Vriendin my man het dieselfde gedoen vir 7 jaar, met my beste beste vriendin, hul werk saam, sit nogsteeds in dieselfde kantoor. My man het so 4 jaar terug 'n masiewe hartaanval gehad en ek het daar vir die Here gevra om hom asb te spaar en ek het besluit ek gaan veg vir hom, deur al die slegte tye het ek nogsteeds die grond aanbid waarop hy loop. EK het ook dagboek gehou van elke insident. Het tot probeer om myself te skiet maar die Here het die koeel laat verby gaan. Ek was op 'n kerk kamp in Sabie en daar het ek haar vrygespreek en vir hom ook. Wou ook als weet tot een oggend het die Heilige Gees my gevra as ek als weet wat gaan ek daarmee maak. En ek het onmiddelik van al die Dagboeke en als ontslae geraak. Vandag het ek my man terug en baie baie meer gekry as wat ek vir die Here gevra het, ons is Februarie 25 jaar getroud en ek verruil hom vir niks of niemand ek onthou dit was seer en vernederend maar dit is vir my soos kraam weet dit was seer maar nie hoe seer nie. Byt vas vertrou op die Here en as jy regtig lief is vir hom baklei vir hom, moenie verwyt nie raak soos die Bybel ons leer, saggies en deugsaam sagte antwoorde en bid elke dag vir jou huwelik al gaan dit goed. Sterkte die Here seen jou en as Hy dit vir my gedoen het sal Hy dit vir jou ook doen. xx
- Ai julle! Hoe is dit dat ons soveel vroue is wat so seer het en gehad het. Ek byt vas, het sterk gestaan, geval, weer opgestaan. Elke dag is nog n oor begin, n nuwe aanpassing. Ek weet steeds nie of ons huwelik dit gaan maak nie, en partykeer weet ek ook nie of ek wil he ons moet dit maak nie. Mens kyk anders na die ander persoon in jou huwelik as daar soveel skade was. Ek bid dat die Here my net sal help om my MAN weer te sien vir wie en wat hy is, soms voel dit asof ek na n heel vreemde mens kyk, en dan wonder ek wat de flip doen ek hier? So ja, ek het twyfel en ek het vrees en ek het seer, maar een ding WEET ek. Die HERE het n plan en in SY genade glo ek daardie plan gaan vir ons ten goede meewerk. Sterkte en vrede en seen vir elke een van julle met letsels op julle harte.


.jpg)




.jpg)

















