BEHEER JOU BUIE

BEHEER JOU BUIE

... Ons wys jou hoe!

2011-08-05

Wonder jy hoekom jy soms ‘af’ voel? En dan ook sommer slegter voel omdat jy nie weet hoekom jy so voel nie? Jy kan jou bui verbeter en gelukkiger wees!

Daar is seker niemand wat al 100% kon vasstel presies hoe ons buie werk nie. Niemand het ook die vermoë om voor die tyd te bepaal in watter bui iemand die volgende dag gaan wees nie. ’n Mens se buie is so onvoorspelbaar soos die weer, en soms is die redes agter ’n spesifieke bui ook nie eers duidelik nie.

Iemand het eenkeer gesê: “Die hart bedoel goed, maar buie het geen lojaliteit nie. Daarom moet buie gehoor word, maar nie gesien word nie.”

Navorsing het getoon dat mense wat gelukkig is, fisies gesonder is, langer leef en oor die algemeen ’n kwaliteit lewe geniet. Daar is ook honderde verskillende studies wat bewys dat hoe jy kies om te lewe – wat jy doen en hoe jy besluit om daaroor te dink –’n groot rol speel in jou vermoë om regtig gelukkig te kan wees. Jy is dus nie net ’n slagoffer van chemiese stowwe wat in jou brein afgeskei word nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk en buie.

Wat veroorsaak jou buie?

Daar is verskeie dinge wat ’n mens se bui beïnvloed. Hier is ’n paar van die hoofredes hoekom ’n mens verskillende buie ervaar:

Jou hormone beïnvloed jou bui

Hormone is kragtige chemiese stowwe wat jou liggaam help om normaal te funksioneer. Wanneer die balans van hierdie hormone versteur word, kan daar nagevolge soos buierigheid en depressie wees. Die hormoon estrogeen bepaal hoofsaaklik jou bui omdat dit die vlakke van serotonien en endorfiene in jou sisteem bepaal. Navorsing wys dat ’n wanbalans in jou estrogeenvlak baiekeer veroorsaak dat jy paniekerig en depressief voel.

Daar is verskillende soorte medikasie beskikbaar wat kan help om hierdie vlakke te laat balanseer, maar sekere eetgewoontes en kossoorte kan ook jou bui verbeter.

Kos beïnvloed jou bui

Onlangse studies bevestig dat daar ’n verhouding bestaan tussen jou bui en die kos wat jy eet. Kos is jou liggaam se brandstof waarsonder dit nie kan funksioneer nie. Dis belangrik om jou liggaam gesond te hou, want dit sal jou ook oor die algemeen beter laat voel. Die teendeel is egter ook waar – sekere kossoorte kan jou ’n slegte bui gee.

* Koolhidrate verhoog jou energievlak, wat jou minder gespanne laat voel en jou konsentrasie verbeter. Aartappels, vars vrugte en groente en springmielies is goeie voorbeelde.
* Proteïene kan jou help om meer positief, kalm en in beheer te voel. Dit bevat aminosure, wat help om endorfiene, wat mens laat goed voel, te produseer. Vleis,vis, neute en eierwit is goeie bronne van proteïene en moet gereeld in klein hoeveelhede by jou dieet ingesluit word.
* Water sorg dat jou liggaam nie dehidreer nie. Dehidrasie laat ’n mens flou en moeg voel. Vervang dus altyd die vloeistof wat jy verloor.
* Kafeïen, suiker en alkohol laat ’n mens net tydelik beter voel, maar het eintlik ’n negatiewe invloed op jou gestel. Te veel kafeïen kan slapeloosheid veroorsaak en te veel alkohol kan jou lewer affekteer – dit alles sal jou lusteloos en depressief laat voel. Vermy dus liewer hierdie drie!

Reuk beïnvloed jou bui

Het jy geweet dat jy elke dag omtrent 23 000 keer inasem? Jou reuksintuig is dus baie sterker en belangriker as wat jy dink. ’n Gewone mens kan tot 10 000 verskillende reuke onderskei, en daar is bewys dat verskillende geure verskillende emosies kan veroorsaak. Sekere reuke kan ons goed laat voel, soos die reuk van koffie of warm brood. Laventel laat ’n mens rustig voel en die reuk van skoon wasgoed kan jou tuis en gelukkig laat voel.

Slegte reuke laat jou sleg of vies voel – dink net hoe jy voel wanneer jy by die abattoir of vullisterrein verbyry of wanneer jy die kos laat aanbrand het! Skerp reuke soos ammoniak kan ’n mens depressief of bedwelm laat voel, en selfs hoofpyn gee. Al hierdie dinge kan ’n groot effek hê op jou bui en ’n goeie bui vinnig in ’n slegte of geïrriteerde bui verander.

Wat kan jy nog doen?

Net soos met enigiets anders in die lewe, gaan dit tyd neem om jou gedagtes – en dus jou buie – te verander. Die eerste stap is om te besef dat jy jouself ongelukkig maak. Probeer raaksien waar jy dinge verkeerd benader, dink daaroor en probeer om sulke gedagtes te vermy. Kyk na jou reaksies en vra vir jouself: Oorreageer ek nie ’n bietjie nie? Het ek dalk die kat aan die stert beet? Kan ek die situasie miskien anders benader? Sodra jy jou negatiewe gedagtes kan raaksien, kan jy begin om hulle uit te skakel. Konsentreer daarop om na die positiewe sy van ’n situasie te kyk. Hoe meer jy jouself dwing om positief te wees, hoe gouer sal jy die verskil sien. Jy sal sien dat jou slegte buie sommer baie minder sal raak en dat jy situasies dan ook beter sal kan hanteer.

Daar is ook ander dinge wat jy kan doen om jou bui te verbeter wanneer dinge ’n bietjie rof gaan.


Doen enigiets wat jy kan om jou bui te verbeter en dit so te hou. Dit is nie net goed vir jou nie, maar sal ook jou verhouding met die mense rondom jou verbeter. 


Saamgestel deur Annelien van Basten
Geredigeer deur Wilma le Roux


 

Bronne:
myheartmind.blogspot.com
tipsonhealthyliving.com
livestrong.com
integrativepsychiatry.net
ehealthyone.com 


Kommentaar
  • Het sowat vier weke terug n histerektomie ondergaan - voor dit het di dokter bevestig dat ek geen estrogeen het nie - is dit wat my binne sekondes rooi laat sien en moes my dokter nie meds voorgeskryf het nie? Magda

gesels saam


soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]