10 VRAE ...
... wat jou lewe verander!
2011-07-07
... wat jou lewe verander!
2011-07-07
Moenie bekommerd wees as jy dalk ook een van die mense is wat aanhoudend vrae vra nie. Wetenskaplikes sê dat jy maar kan aanhou daarmee – dis goed vir jou!
As jy, soos die meeste mense, tussen die ouderdom van twee en drie ’n obsessie met vrae vra ontwikkel het, kan jy ontspan. Wetenskaplikes het vasgestel dat as jy aanhou om vrae te vra, dit beslis jou brein aan die gang sal hou, maak nie saak wat jou ouderdom is nie.
Maar as ’n mens begin nadink oor watter vrae jy nou eintlik behoort te vra in die lewe, raak jy verward: Wat is die regte vrae om te vra? Oor die algemeen sal jy dalk vir jouself vra: “Het ek onthou om my sitplekgordel vas te maak?” of: “Het ek die stoof afgesit?” – omdat jy veilig wil wees. “Hoeveel geld moet ek spaar as ek wil aftree as ek 60 is?” – wanneer jy beplan vir die toekoms. “Wat moet ek aantrek?” – wanneer jy soggens voor jou kas staan voordat jy werk toe gaan.
Sal jy nie graag ook al die regte vrae wil vra om jou lewe gelukkiger te maak en sodat jy interessanter en meer geïnspireerd kan wees nie?
Natuurlik sal jy, maar weet jy, dis eintlik nie so maklik nie. ’n Mens kan al die regte vrae in die wêreld hê, met al die regte antwoorde, maar as jy dit nie in jou lewe gebruik nie, beteken dit niks.
Ons het vir jou die vrae én die antwoorde, maar dis jou werk om dit deel te maak van jou lewe sodat jy die verandering kan sien.
Watter vrae moet ek vir myself vra?
Charles Connolly het gesê: “Om vrae te vra help ons om ons gedagtes te fokus.”
Jy dink nou seker dis eintlik ’n simpel vraag om vir jouself te vra. Maar dit is glad nie! Sonder hierdie vraag sal jy nie enige ander vrae kan vra nie. So, dis eintlik die belangrikste vraag van almal – dit maak jou bewus van wat om jou aangaan en help jou om jou behoeftes in elke situasie raak te sien. Vra dit gereeld.
Martha Beck
Wat as ek die goed wat ek aanhou uitstel, nóú kan doen?
Mary Engelbreit het gesê: “As jy nie van iets hou nie, verander dit. As jy dit nie kan verander nie, verander dan die manier waarop jy daaroor dink.”
Baie van ons het honderde verskonings hoekom ons nie kan verander nie. Die probleem is: As ons wag vir iets om te gebeur sodat dit kan verander, raak die lewe baie keer so onuithoudbaar dat ons op die ou end gedwing word om daardie verandering te maak.
Dit gebeur dikwels dat ons so in ons gemaksone lewe dat dit vir ons te veel moeite raak om dinge te verander en uitdagings aan te pak. Wanneer jy vir jouself vra: “Sê nou maar ek maak nóú hierdie verandering?” sal dit jou ’n bietjie laat dink. En al besluit jy dan om dit nié te doen nie, sal dit wees omdat jy nie dink dis nou nodig nie, en nie omdat jy net uit gewoonte op dieselfde trant wil voortkarring nie.
Barbara Buffton
Waaroor is ek dankbaar in die lewe?
Iemand het eenkeer gesê: “Hy wat nie dankbaar is oor klein dingetjies nie, sal ook nie dankbaar wees oor groot dinge nie.”
Moet nou nie jou oë rol en dink hierdie vraag is ’n cliché nie. Dit is ’n belangrike vraag. As jy besef hoeveel dinge jy het en hoe geseënd jy is in vergelyking met iemand anders, sal jy beslis meer positief voel. En jy sal sien dat jou “groot” probleme dalk nie so erg is as wat jy gedink het nie. As jy nie elke dag dadelik aan tien nuwe dinge kan dink waarvoor jy dankbaar kan wees nie, gaan sit en maak ’n lysie. Kyk rondom jou en na die mense om jou en dink ’n bietjie. Daar sal iets wees – al is dit klein of baie algemeen. Daar is regtig niks wat jou beter sal laat voel as om te weet dat jy eintlik ’n baie goeie lewe het nie. Dit kan jou hele bui en lewensuitkyk verander en jou inspireer om meer kreatief te dink – en jou lewe nog beter te maak.
Tim Brownson
Waar kan ek begin om my doelwitte te bereik?
“’n Doelwit sonder ’n plan is net ’n wens.” So glo Larry Elder.
Dit is dan ook waar wat hierdie vraag aanbetref. Onthou, alle goeie dinge het begin met ’n idee. As jy jou doelwitte wil bereik, sal jy eers daaroor moet dink en jou planne agtermekaar moet kry. Wat wil jy bereik? Waaroor droom jy al jare lank? Of jy dit nou weet of nie, jy het in jou onderbewussyn drome en ideale wat jy graag wil verwesenlik. Dít is die dinge waarop jy moet fokus. Kry vir jou realistiese doelwitte en werk daaraan. Net jy kan die eerste tree gee om iets wonderliks van jou toekoms te maak.
Robert Pagliarini
Wie kan my help om my drome waar te laat word?
Douglas Adams het gesê: “Mense het die ongelooflike vermoë om uit ander se foute te leer, maar het ook die vermoë om dit nie te doen nie.”
As jy aan jou doelwitte begin werk, kan dit jou help om te dink aan iemand wat baie suksesvol is. Volg daardie persoon se raad oor hoe jy te werk kan gaan om ook suksesvol te wees. Dis ook ’n goeie ding om te kyk watter foute hulle begaan het en seker te maak dat jy dit nie ook doen nie. Moenie skaam wees om hulp te vra nie. Jy hoef nie die wêreld op jou skouers te dra en weke lank te sukkel met iets nie. Vind uit wat jy wil weet en kry die vinnigste manier om jou probleem op te los, sodat jy aan jou toekoms kan werk.
Tim Brownson
Hoekom is ek altyd so bekommerd oor alles?
Don Harald het gesê: “As ek my lewe kon oorhê, sal ek dalk meer regte probleme hê as dié wat ek op die oomblik vir myself optower.”
Dink jy dalk ook vir jouself probleme uit? Hierdie aanhaling kan die manier waarop jy dink, heeltemal verander en jou help om minder te stres. Om bekommerd te wees help gewoonlik nie om die situasie te verander nie – dit kan jou net ongelukkig maak. Baie sielkundiges glo: Wanneer jy vergeet van kommer en eerder dankbaar is vir wat jy het, leer jy dié deel van jou brein wat heeltyd bekommerd is, om heeltemal af te skakel.
Martha Beck
Wat kan ek uit hierdie ervaring leer?
Tom Krause glo “daar is geen mislukkings in die lewe nie – dis net ervarings wat jy het. En hoe jy daarop reageer, is jou keuse.”
As daar slegte dinge met jou gebeur of jy misluk met iets wat jy probeer het, is dit die beste om terug te sit en te dink watter les hierdie spesifieke ding jou kan leer. Dalk moes jy jou werk verloor sodat jy iets nuuts kon aanpak waarmee jy baie suksesvol gaan wees. Of dalk het jou huwelik misluk omdat jy nog nie jou sielsgenoot gekry het nie. Om uit jou foute te leer is die een ding wat jou ’n suksesvolle mens sal maak. Daar is altyd iets positiefs omtrent enige situasie. Soek daarna en leer uit jou foute. Maak veranderinge waar dit nodig is, en probeer om eerder die positiewe as die negatiewe met jou saam te neem.
Tim Brownson
Wat wil my liggaam vir my sê?
“Pas jou liggaam goed op, want dit is die enigste plek waarin jy kan woon,” sê Jim Rohn.
’n Mens se liggaam is baie slim gemaak en weet gewoonlik wat die beste is vir jou. Luister na jou liggaam en doen wat goed is vir jouself. Partykeer móét jy net daardie sjokolade eet omdat jy die suiker of kalsium nodig het. Soms is jy moeg, want jou liggaam voel jy werk te hard. As jy dit ignoreer, kan jy dalk jou liggaam so afbreek dat dit nie maklik sal herstel nie.
Martha Beck
Hoe organiseer ek my lewe?
“Organiseer is dit wat jy doen voordat jy enigiets doen, want as jy dit doen, is niks onduidelik nie,” het AA Milne gesê.
Voel dit soms vir jou asof jou lewe heeltemal handuit ruk en jy glad nie beheer het daaroor nie? Baie van ons voel so, maar dit is tye soos hierdie wat jou baie sal help om georganiseerd te wees.
Hoe organiseer ’n mens jou lewe? Begin by jouself. As jy tyd neem om jouself te organiseer, sal die dinge rondom jou ook in plek val. Kyk na die groter prentjie en besluit wat belangrik is en wat nie. Leer om te voorkom dat onbelangrike dinge jou lewe vol maak. Onthou, as jy net ’n eenvoudige aksieplan het vir elke dag, kan jy ’n dolle gejaag in ’n suksesvolle en baie produktiewe dag omskep.
Tracy Alt
Wat is so snaaks?
“Om te lag gee ons afstand. Dit stel ons in staat om terug te tree uit ’n situasie, dit te hanteer en aan te beweeg.” – Bob Newhart
Kinders kan so spontaan lag oor die gewone dinge van die lewe dat dit grootmense soms irriteer. Jy lag nou sowat 300 keer minder per dag as toe jy ’n kind was. Voel weer jonk – lag gereeld vir soveel moontlik dinge in die lewe. Sien die ligte kant raak en deel dit met ander.
Martha Beck


.jpg)




.jpg)

















