IS JY JOU EIE VYAND?

IS JY JOU EIE VYAND?

'n Ander vrou in jou lewe?

2010-08-25Suné Nel

Ek moet vandag bieg: daar is ’n ander vrou in my lewe

Sy agtervolg my oral waar ek gaan met haar sellulietvrye heupe, hare wat altyd gesond blink en wysheid wat herinner aan dié van Rut. Ek meet my daagliks aan haar en word keer op keer te lig bevind.

Sien, hierdie ander vrou is altyd stralend gelukkig en gaaf. En nie net met ander nie, sy is veral gaaf by die huis. Sy is áltyd geduldig en weet op een of ander manier presies wat om wanneer te sê. Sy sê nooit verkeerde goed op die verkeerde tyd óf die regte goed op die verkeerde tyd nie.

Selfs in die kombuis is sy ’n voorslag. Sy kan bederf met Sondag-kos soos ons oumas s’n. Of sy kan belese gaste onthaal met enigiets van ’n fynproewer- salmvoorgereg tot crème brûlée as nagereg. Ongenooide gaste is vir haar ’n plesier, sy is nooit ongeskik nie en glo hoe meer siele hoe meer vreugde. Selfs al moet sy haar Saterdagmiddagslapie inboet, bly sy altyd gasvry en hartlik.

Moenie dink sy is die ja-en-amen-tipe nie. Allermins. In haar oë is daar nie ’n tussen-in nie. Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Punt. Sy verdra nie onreg nie en is nie skaam om op te staan vir dit waarin sy glo nie. Sy besit immers ietsie van Salomo se wysheid en regverdigheid.

Haar onbesproke karakter laat my altyd lelik sleg lyk langs haar!

Daardie ander vrou is ek – oftewel, die ideale ek

Dis die immerperfekte ander kant van my onperfekte self. Ongelukkig dié deel waarvan niemand weet nie! Sy is die ék op my goeie dae – wanneer ek uit die haarsalon stap, ek my beste, duurste denim aanhet en my man my onverwags weer vertel hoe bekoorlik ek is. Sy’s die ek wanneer ek saam met vriendinne kuier en hulle laat skaterlag met die stories oor my lewe. Of wanneer my kinders dink ek is pret omdat ek laataand saam met hulle fliek en springmielies eet.

Die ware, minder ideale ekke, vergryp haarself maklik aan sjokoladekoek wat sy eintlik vir haar kinders by die tuisnywerheid op die hoek gekoop het. En dan is sy baie vies as die skaal die volgende môre die resultaat daarvan wys. Die regte ek haat dit om onnodig tyd in die kombuis deur te bring. Sy verkies om liewers met ’n boek iewers opgekrul te lê.

My spyskaart lyk feitelik elke dag dieselfde en laat niks aan die verbeelding oor nie. My kinders weet al dat Woensdae ons spaghetti bolognaise-dag is en Vrydagaande beteken pizza. My man weet ook al mooitjies na ’n paar jare van getroude lewe dat ongenooide gaste (deur hóm genooi) ná die kuier tot langdurige stilstuipe aan my kant sal lei.

Ek glo dat ek nie die enigste vrou is wat met haar perfekte ander helfte moet saamleef nie. Dis nou die “ander” vrou wat agt glase water per dag drink, hou van oefen, spesiale oogroom gebruik teen ongevraagde plooie en altyd positiwiteit en optimisme uitstraal. As jy soos ek is, sal jy ook heeltyd bewus wees van daardie perfekte ander vrou. Jy sal graag meer soos sy wil wees maar nie weet hoe nie. Soek jy dringend na advies om ook te ontpop in Juffrou Altyd-perfek?

Jy hoef nie sy te wees nie!

Wanneer jy daarna streef om perfek te wees, is jy besig om ’n verlore stryd te stry. Want jy is nie gemaak om perfek te wees nie. Jy moet net leer om tevrede te wees met wie jy is.

Haal dus diep asem, ruik die rose en neem die volgende deel regtig ter harte. Dit kan jou lewe verander!

Leer om te laat gáán. Dis onmoontlik om elke deel van jou lewe self te beheer. Iewers moet jy leer om oor te gee aan ’n Hoër Hand en werklik te vertrou dat Hy in beheer is van jou lewe. Jy kan nie alles en almal om jou beheer nie. Jy gaan jouself moeg maak en keer op keer teleurstel. Gee óór!

Hou op soek na dinge “buite” jouself om jou lewe beter te maak. Die antwoorde lê binne jouself en wag om ontdek te word. Jou lewe is so heel en volledig as wat jy dit kies om te wees. Die antwoorde op al jou vrae lê binne jouself. Maak tyd om die ontdekkingsreisiger van jou eie siel te word. In ons hedendaagse dolle gejaag is ons besig om te verleer om met ons hart te dink. Ons beredeneer alles op ’n logiese wyse. Gun jouself tyd vir hártsgoed.

Persoonlike groei is jóú keuse en jóú verantwoordelikheid. As jy jou gesig na die son gekeer hou, sal jy nie die skaduwees sien nie. Aanvaar jou “foute”. Jy hoef nie perfek te wees om gelukkig te wees nie. Jy hoef nie altyd die regte dinge op die regte tyd te sê nie. Jy hoef nie die perfekte lyf en verleidelike voorkoms te hê nie. Jy hoef nie knap te wees in alles wat jy aanpak nie en jou kinders hoef nie die slimste en sportiefste te wees nie.

Jy hoef net tevrede te wees met die plek waar jy nou in jou lewe is. Leer om gelukkig te wees – ongeag ... klim die golf van vreugde en ry dit onverskrokke. En geniet elke oomblik van die wind in jou deurmekaar, onperfekte hare! Dis tog waaroor die lewe op die ou end gaan.

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]