TOP 10 CHECK LYS VIR JOU 30’S
Die groot 30 is 'n ouderdom wat baie vroue vrees, maar hoekom? Dit kan dan soveel pret wees!
2010-04-28
Die groot 30 is 'n ouderdom wat baie vroue vrees, maar hoekom? Dit kan dan soveel pret wees!
2010-04-28
As jy wonder of jy regtig so selfstandig is, merk af wat jy al wel het of gedoen het en bepaal só waar jy staan.
1. Jy is nou al 12 jaar klaar met skool, so lank as wat jy in die skool was. Teen die tyd moet jy goeie werk hê, miskien al bevordering gekry het en ’n salaris verdien sodat jy lekker gemaklik kan leef (en nie meer jou pa bel as jy in die knyp is nie).
2. Jy moet ten minste een splinternuwe, duursame meubelstuk besit wat jy self gekoop het. Jy kan nie vir ewig jou ouma se sitkamerbank met ’n lap opkikker nie, versamel jou eie huisgoed.
3. Mooi klere is enige vrou se droom. In jou 30’s behoort jy ’n hele paar goeie kwaliteit kledingsstukke te hê. Hetsy dit jou swart rokkie, jou kant bra, ’n mooi jas of leerskoene is.
4. Na 30 is jy oud genoeg om nie meer die toekoms te vrees nie, jy sien eintlik uit daarna en jy het ’n pensioenfonds wat jou dalk daai aftreehuisie by die see eendag sal verseker.
5. Beheer van jou eie sake is baie bevrydend. Jy behoort jou eie bankrekening, jou eie e-pos adres en jou eie huissleutels te hê. Jy moet ook weet wat aangaan in jou lewe, al het jy die beste man of pa in die wêreld, moet jy weet van jou belastingvorms, jou mediesefonds en enige ander admin waarop jou naam staan.
6. Dalk iets wat min vroue het, maar ’n toolbox, of ten minste die kennis om die inhoud daarvan te gebruik. Jy is nou mooi groot en kan op jou eie voete staan. Dus moet jy ’n gloeilamp kan omruil indien die situasie homself voordoen. En dis nie onvroulik nie, dít is selfstandig.
7. Op die gevorderde ouderdom van 30 is vriende met dieselfde belangstellings en uitkyk op die lewe as jy, belangrik. Dit help om saam te kan gesels en dieselfde dinge te geniet. Vriende wat elke naweek rowwe partytjies wil hou terwyl jy wil tee drink en TV kyk is nie ’n wenresep nie.
8. Tevredenheid is baie belangrik vir sielerus. As jy nie tevrede is met wat jy nou al bereik het in die lewe nie, moet jy ernstig daarna begin soek en streef – vir jou eie geluk!
9. Die dae van min moeite en goed lyk is nog nie verby nie, maar jy moet nou al begin voorsorg tref vir eendag... As jy nie ’n goeie velsorgreeks en oefenprogram het nie, gaan jy sukkel om die ouderdom weg te kul!
10. Die belangrikste ding in die lewe is balans! Tussen jou man, jou kinders, jou werk, jou huis en bo alles jou eie self, is balans ongelooflik belangrik. Jy moet die perfekte ewewig kry tussen alle aspekte van jou lewe. Hoekom? Want jy is mos ’n supervrou!
























Rindie Cloete