PRÁÁT MET JOUSELF, DIS DIE IN-DING!
“Ek mag dalk skisofrenies wees,” het iemand eendag gesê, “maar ten minste het ek mekaar.”
2010-02-25Martie Swanepoel
“Ek mag dalk skisofrenies wees,” het iemand eendag gesê, “maar ten minste het ek mekaar.”
2010-02-25Martie Swanepoel
HOEVEEL GESELS JY MET JOU?
In Shelly Beach se The Silent Seduction of Self-Talk beweer sy jy kommunikeer teen ’n verstommende 1 300 woorde per minuut met jouself. Wow! En dan smag jy steeds soms na ’n bietjie geselskap ... hoeveel meer woorde wíl jy hoor? Iemand anders het weer gesê: “Ek hou van slim antwoorde en ’n skerp intellek, daarom geniet ek my eie geselskap.” (Dit was nie die skisofreen nie!)
Maar is jou selfgesprekke die moeite werd?
SHELLY HET DIE VOLGENDE RAAD:
*Luister na jouself: Dink bietjie na oor die dinge wat jy vir jouself sê. Leer om na jou gedagtes te luister en dit onder ’n vergrootglas te plaas. Kyk (luister) of jy negatiewe patrone raak sien. Jou selfgesprekke vertel baie oor jou houding teenoor ander en jou daaglikse gedrag. Dalk gebruik jy jou selfgesprekke om jou verkeerde gedrag te probeer regverdig. Verander van binne na buite.
*Herken die stemmetjie van verleiding binne jou: Ons het almal daagliks ’n oorlog tussen goed en sleg binne ons. Volgens Shelly is ons gedagtes en selfgesprekke dikwels selfsugtig en selfgesentreerd. Leer om weer beheer oor jou binnewêreld te neem. Keer gedagtes van wraak, kritiek teenoor jouself en ander, asook van listigheid en jaloesie. Alle denke wat wentel om goed wat skadelik vir jouself en ander mense gaan wees, kan geen positiewe waarde vir jou inhou nie.
Jy kan letterlik en figuurlik wegkom met moord in jou gedagtes. As jy leer om nie vir jou denke vrye teuels te gee nie, sal jy gou kan onderskei tussen wat opbouend en afbrekend is.
*Voer ’n debat: Begin ’n debat in jou gemoed. Raas sommer hardop met jouself. Vir elke negatiewe gedagte moet jy aan ’n positiewe een as teenvoeter dink. As jy byvoorbeeld dink: Sy is aaklig, kan jy dit vervang met: Sy is iemand se kind vir wie sy spesiaal is.
JOU EIE STORIEBOEK
Volgens www.self-awareness kan jy daagliks in ’n dagboek ’n indieptegesprek met jouself voer.
*Dit gee jou kans om dit wat in jou gedagtes aangaan, uit te pluis en om jouself uit te druk. As jou dagboek privaat is, kan jy oor jou vrese en hoop, jou liefdes en teleurstellings met jouself gesels.
*’n Joernaal verskil van ’n blog omdat ’n joernaal ’n gesprek met jouself is en jy nie aan ander se kritiek uitgelewer is nie.
*Die gedagtes wat jy neerpen in jou joernaal kan jou help om dinge uit te sorteer wat jy andersins nie sal aanspreek nie. As jy dit weer lees, kan jou eie woorde jou konfronteer.
*Skryf elke dag ’n paar dinge neer waaroor jy dankbaar is. Skryf ook die dinge neer wat jou pla en maak ’n punt daarvan om dit uit te sorteer. Soms kry jy die oplossing as jy ’n ruk daarna weer jou gedagtes lees.
EK WEET EK KAN!
*’n Amerikaanse studie beveel aan dat kinders geleer moet word om hulleself te motiveer. Dit het ’n groot impak op akademiese prestasie.
*’n Japannese studie het selfs gevind selfmotivering kan ’n invloed op sommige vroue se vrugbaarheidsbehandelings hê.
*Deur jouself positief te motiveer, kan jy gestruktureerde denke skep wat jou sal help om jou doelwitte te bereik, sê nog ’n Amerikaanse studie.
Jy het in elk geval nie ’n keuse nie! Dis onmoontlik om van jouself af weg te kom ... jy kan netsowel sorg dat die verhouding wat jy met jouself het, werk.























