TAMELETJIE KAN SOET WEES
Hoe dikwels land jy in 'n situasie wat jy nie weet hoe om dit te hanteer nie? Of soms besef jy net ’n oomblik te laat dat jy iets nie moes gesê het nie.
2010-02-12
Hoe dikwels land jy in 'n situasie wat jy nie weet hoe om dit te hanteer nie? Of soms besef jy net ’n oomblik te laat dat jy iets nie moes gesê het nie.
2010-02-12
Lees die om te sien hoe om te reageer in die tameletjie situasies wat die lewe soms uitdeel.
Midde-in ’n katgeveg
Twee van jou beste vriendinne het ’n uitval oor iets onbenullig en weier selfs om in dieselfde vertrek te wees. Jy voel in twee geskeur en is in die middel vasgekeer. Een van die dae is jou verjaarsdag en, omdat jy lief is vir al twee, wil jy nie gedwing word om te kies wie om te nooit nie.
Die goeie nuus? As jy nie sewe jaar oud word nie, hoef jy nie te kies nie! Teen dié tyd behoort jou vriendinne nie net volwasse genoeg te wees om mekaar ’n paar uur lank te verdra nie, maar selfs om ’n glasie te klink (saggies!) op jou geluk. Moenie toelaat dat ander mense jou in die middel van hulle gemors dompel nie. Laat weet albei dat jy weier om betrokke te raak, lief is vir hulle en graag saam met hulle jou verjaarsdag wil vier, mits hulle beskaafd en volwasse sal optree. As jy regtig jou neus in hulle sake wil druk, koop vir elkeen ’n paar bokshandskoene!
Oor die heining
Jou bure se tiener hou ’n partytjie terwyl haar ouers weg is. Daar was beslis alkohol betrokke, maar niks te erg het gebeur nie en niemand het die polisie gebel nie.
Moet jy:
• Die volgende dag ’n “geselsie” met haar hê en waarsku dat sy dit nooit weer moet probeer nie
• ’n Anonieme briefie vir haar ouers skryf oor die partytjie
• Met die ouers gesels as hulle terug is.
Die regte ding is om met die ouers te gesels wanneer hulle terugkom. Wees versigtig – jy wil nie hê hulle moet dink jy beskuldig hulle of dink hulle is slegte ouers nie, of dat jy hulle dogter se integriteit bevraagteken nie. Sê iets soos “ek het gedink julle wil dalk weet dat daar ’n partytjie by die huis was die naweek. Niks ernstig het verkeerd geloop nie, maar die kinders het nogal geraas en daar was beslis drank betrokke.” Moenie ’n preek afsteek oor die gevare van drankmisbruik of hoe hulle hul dogter moet straf nie. Wees sensitief en moenie jou neus te diep in hulle sake indruk nie. Vra jouself af wat jy, in hulle skoene, sou wou hê.
Leef en laat liefhê
Hoe sê jy vir ’n vriendin jy dink sy spring te gou in ’n verhouding in? Die grootste fout wat jy kan maak, is om jou opinie oor iemand anders se liefdeslewe uit te spreek. ’n Verhouding mag dalk op die oog af lyk soos ’n ramp wat wag om te gebeur, maar die teendeel is dalk waar. As jy iets sê, mag sy jou dalk verkwalik. Jy kan nie jou geliefdes teen seerkry beskerm nie. Passie is diepgewortel en opinies en gevoelens is meestal onbuigbaar. As die verhouding verbrokkel, sal hulle sukkel om jou in die oë te kyk. As dit wel uitwerk, sal sy dalk voel jy is nie lojaal nie. Vra eerder vrae soos “Het jy al daaraan gedink dat …” wanneer jy jou mening wil lug. Moet nooit die nuwe liefde beledig nie, selfs al moet jy op jou tong byt om dit nie te doen nie. Ondersteun haar sover jy kan. Jy hoef nie met haar besluite saam te stem om haar te ondersteun nie, julle kan ook agree to disagree. Onthou, die nuwe persoon is nou deel van jou vriendin se lewe en om hom te kritiseer, sal wees soos wanneer iemand jou geliefde kritiseer.
Benut die splinter in jou oog
Aristoteles het gesê kritiek is iets wat ons maklik kan vermy deur niks te sê, te doen of te wees nie. Kritiek maak ’n mens baie weerbaar, veral wanneer dit kom van iemand wat jou goed ken. Tog lui die ou gesegde: wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Hanteer dit só:
• Vra jouself eers af hoeveel waarheid daar steek in wat gesê is. As die kritiek konstruktief en akkuraat is, aanvaar jou fout met grasie. Vra om verskoning en stel dit reg. Moenie aanvallend optree omdat jy verkeerd is nie.
• As die kritiek onregverdig is, moenie beledigend wees nie. Vra vir meer inligting en klaar enige misverstande uit. Onthou, selfs al is dit wat gesê is wreed en onsensitief, kan daar dalk ’n greintjie waarheid in steek.
• Vat dit van wie dit kom. Is dit iemand wat jy respekteer? Kan jy dalk iets daaruit leer? Moenie toelaat dat emosies jou verstand benewel nie.
• Onthou dat wat jy doen net so belangrik is soos wat jy sê. Wanneer iemand jou kritiseer, neem ’n houding vol selfvertroue in, hou jou stem ferm en maak oogkontak. Mense bedoel dikwels nie wat hulle sê nie of besef nie hulle maak ander seer nie. Moenie dit wat mense sê té ernstig opneem nie.
• Weet dat God jou liefhet nes jy is. Wat hy van jou dink is baie belangriker as ander mense se opinie.
























praaten nie andereen se gevoelings in ag neem