HELP! DIE LEWE IS NIE REGVERDIG NIE!
Natuurlik voel jy nie lus om op te staan as die lewe jou pootjie nie. Maar as jy terugdink aan die Mandela’s van die wêreld, is selfbejammering nie ? opsie nie. Maak liewer só ...
2010-01-13Martie Swanepoel
Natuurlik voel jy nie lus om op te staan as die lewe jou pootjie nie. Maar as jy terugdink aan die Mandela’s van die wêreld, is selfbejammering nie ? opsie nie. Maak liewer só ...
2010-01-13Martie Swanepoel
GENOEG IS GENOEG!
Is dit nie partykeer lekker om sommer net vir jouself jammer te wees nie? Kom ons wees maar eerlik: ’n Mens put tog ’n soort bevrediging daaruit. (Net jammer ’n pity party kry nooit ’n goeie opkoms nie – enige ander gaste raak baie gou uitgekuier en verkas!) Dis nie ’n skande om jouself jammer te kry nie – wie anders, per slot van rekening, gaan so baie simpatie met jou hê? Dis ’n normale ding en ons almal doen dit maar van tyd tot tyd. Maar dit raak ongesond as jy in ’n Martie Martelgat-groef verval, so die geheim is om nie perspektief te verloor nie.
SKOOT #1
Besluit om vandág uit die gat van selfbejammering uit te klim. Kyk rondom jou. Wat is daar waarvoor jy dankbaar kan wees? Dit maak nie saak as dit vir jou voel of jy na strooihalms gryp nie – dis ’n begin!
Dink mooi oor wat jou selfbejammeringsaanvalle aanbring. Dalk lyk dit nie meer so erg as jy dit eers in die regte perspektief sien nie.
SKOOT #2
Noudat jy deur ’n positiewe bril na die situasie kyk, is dit tyd om jouself reg te ruk. Een van die wortels van selfbejammering is twyfel dat jy iets sal regkry of bereik. Te veel selfbejammering kan veroorsaak dat jy jouself as ’n hulpelose slagoffer begin sien, en nie besef hoe jy self tot jou situasie bygedra het, en daarvoor verantwoordelikheid aanvaar nie. ’n Mens het ’n verantwoordelikheid in enige situasie – al is dit net om jou rug reguit te maak en jou onskuld te bewys of om jou uit die situasie te verwyder! Oppas ook as jy agterkom jou selfbejammering gaan met ’n klomp skuldgevoelens gepaard. Dit sal jou net dieper in die gat in trek.
Veel erger is selfbejammering wat uit een of ander kompleks stam. As jy byvoorbeeld dink die lewe het die dobbelsteentjies vir jou verkeerd laat val, gaan jy altyd aan die kortste ent trek totdat jy self die dobbelsteentjies vat en net oor en oor gooi tot jy bo uitkom. Daar kan niks positiefs uit gereelde pity parties kom nie. As jy ophou dink soos ’n slagoffer, sal jy die hindernisse wat die lewe op jou pad plaas, baie makliker kan oorkom. ’n Mens noem dit persoonlike groei. Ontwikkel ’n ingesteldheid waar teëspoed jou net meer vasberade maak om sukses te behaal – dan sal niks jou kan keer nie!
SKOOT #3
Selfbejammering is nie ’n baie sosiale aktiwiteit nie! Wie wil nou heeldag luister na iemand se geteem oor die situasie waarin sy heel onskuldig en hulpeloos vasgevang is? As jou selfbejammering uit jaloesie spruit (as jy jou wysmaak dat ander altyd beter as jy doen, beter kanse in die lewe kry, bla-bla-bla ...), raak mense veral baie gou afgesit en verveeld.
Wat wel ander mense sal interesseer en hulle respek sal afdwing, is as jy wys jy werk aan die situasie en sien dit as ’n uitdaging.
SKOOT #4
Een van die bekende sielkundige Sigmund Freud se grootste studente, dr Rudolph Allers, het selfbejammering as een van die skadelikste menslike emosies geïdentifiseer. Sy navorsing wys dis nie net ’n cliché dat jy jou eie grootste vyand kan wees nie. Dis dan ook terapeute se grootste uitdaging: om deur jou verlammende selfbejammering te breek, want dit staan tussen jou en jou genesing.
Gestel iets verskrikliks het met jou gebeur: Jou kind is oorlede of jy is gemolesteer. Solank jy in selfbejammering bly verval, kan jy nie vorentoe beweeg nie. Jy maak jouself dood en blokkeer enige emosionele groei. En jy doen dit aan jouself!
Jy móét die verlammende patroon breek. En dít kan jy eers doen as jy erken jy is vasgevang in daardie patroon. As jy dit erken het, kan jy jouself begin help en aanbeweeg. Is dit maklik? Natuurlik nie. En niemand verwag van jou om oornag te vergeet wat met jou gebeur het nie. Maar om agter die gebeure weg te kruip en jou hartseer die heeltyd te voed, gaan jou ook nie beter laat voel nie.
As jy begin agterkom mense begin jou vermy, moet jy gevaartekens begin sien. Is jou hartseer en ellende al waaroor jy deesdae praat? Is jou negatiewe situasie die eerste ding wat mense onthou as hulle aan jou dink? Enigiemand wat deur ’n moeilike tyd is, is geregtig op simpatie. Maar mense gee net só lank simpatie en dan hou hulle op – terwyl jy nog steeds behoefte daaraan het. Dan moet jy versigtig wees om nie te veel simpatie uit mense te probeer melk nie.
Moenie toelaat dat die negatiewe situasie al die mooi en goeie dinge jou lewe oorheers nie. Dis nie die moeite werd dat jou hele lewe ten gronde gaan as gevolg van een ramp nie. Niemand verwag van jou om te vergeet nie, maar die mense wat jou liefhet en daagliks saam met jou moet leef en werk, vra net dat jy op een of ander manier aangaan met die lewe.
SKOOT #5
Doen iets! Hou op delf in die verlede en in die negatiewe situasie. Maak ’n lys van jou positiewe eienskappe, voeg gereeld daarby by en kyk ook gereeld daarna. Onthou, God maak nie flops nie – jy is ’n Koningskind. Gebruik jou talente om iets vir ander te beteken. Dit laat jou ook laat beter voel oor jouself! Hou op verskonings maak: As die eerste keer nie werk nie, probeer weer. Jy is mos ’n wenner!


.jpg)




.jpg)

















