LAAT JOU DILEMMAS WERK
Dinge loop nie altyd soos ons dit beplan of hoop nie. En soms voel dit of die krisisse ons lewens oorneem.
2009-10-06Lorette Dye
Dinge loop nie altyd soos ons dit beplan of hoop nie. En soms voel dit of die krisisse ons lewens oorneem.
2009-10-06Lorette Dye
Ons vind onsself baie maal in ’n dilemma, ons doen ons bes en ons probeer om alles reg te doen, maar nogtans kom ons in die moeilikheid.
Wat nou gemaak?
Die lewe is nie altyd regverdig nie en as ons onsself in die dilemma bevind dat ons – sonder dat ons daarna gesoek het – in die moeilikheid is, kan dit die bestes onder ons negatief beïnvloed. Ek weet ek voel ver van goed af as ek ten spyte van my beste bedoelings droogmaak of as iemand wat ek liefhet sleg ervaar. My bui kan val en ek kan oorweldig, bang en onseker voel.
Elkeen maak die beste besluite met die inligting tot hulle beskikking. Nogtans kyk ons baie keer na die tyd terug en wens ons kon dit oorkry. Ons dink dat ons iets anders sal kies en dinge anders sal doen of sê. Ongelukkig is oordoen nie ’n opsie nie en daarom moet ons ’n ander manier vind om dit te hanteer.
Herinner jouself met ’n stille wete dat jy dit kan hanteer eerder as om te fokus op wat verkeerd is. Dit sal die basis vorm vir hoe jy dit verder gaan hanteer.
Ek word nie gedefinieer deur my foute nie
Mense het verskillende sieninge van wat ’n persoon suksesvol maak en wat veroorsaak dat ander na hulle opkyk. Meesal as ons na ander kyk sien ons hulle suksesse en dit lyk vir ons asof die lewe vir hulle maklik is en of alles vir hulle net uitwerk. Ander lyk of hulle alles onder beheer het en nie ’n voet verkeerd kan sit nie. As ons na onsself kyk, sien ons al die kere wat dinge vir ons verkeerd loop en waar ons in die moeilikheid en in moeilike situasies beland. Ek het geleer dat sukses nie is hoeveel jy bereik nie, maar hoeveel keer jy opstaan nadat jy geval het.
Behou jou sin vir humor
Laughter is the sun that drives winter from the human face. – Victor Hugo.
Leer om vir jouself en die dilemma waarin jy verkeer te lag. Maak nie saak hoe ernstig die situasie is nie, om die ligter sy te sien, kan dit meer hanteerbaar maak. Dinge loop verkeerd sonder dat ons beheer daaroor het en dit is veral in die tye dat ons moet poog om dit nie te ernstig op te neem nie.
Jou gesindheid is jou redding
Of jy bewus is daarvan of nie, jy het basiese ingesteldhede teenoor die lewe. ’n Positiewe gesindheid kan jou deur die tye wat dinge verkeerd loop, dra.
• Onthou die lewe is ’n geskenk.
• Ek kan terugslae oorleef en van hulle leer.
• Verandering is moontlik.
• Almal het iets van waarde om by te dra.
• Ek kan dit oorleef as dinge nie altyd op my manier verloop nie.
• My lewe is deel van iets ongeloofliks.
CORNELIA VERTEL ... Ek het by mense gewerk wat ’n besigheid van hulle huis af bedryf het. Dit was my verantwoordelikheid om al die voorraad te bestel, en na te gaan wat verkoop en afgelewer is deur die verkoopspersoneel. Van die voorraad het weggeraak iewers tussen my en die verkoopspersoneel. Daar was nie genoeg beheer nie en die voorraad is soms gestoor op ’n plek waar daar geen sekuriteit was nie. My werkgewers het besluit dat ek dit gesteel het.
Ek het geweet dit is nie waar nie, maar ek het geen manier gehad om my onskuld te bewys nie. Volgens hulle was dit ’n uitgemaakte saak dat ek skuldig was. Hulle het so ver gegaan om te sê dat hulle nie kan glo ek noem myself ’n Christen en dan doen ek sulke dinge nie. Dit het baie seer gemaak. Ek het besef ek het geen beheer nie en moes deur baie gebed en oorgee – en ’n bietjie humor – leer om dit te aanvaar.
Stappe om dilemmas te hanteer
• Bly kalm en dink oor die probleem. Deel dit in kleiner dele op.
• Omskryf die dilemma en probeer om te verstaan wat die werklike probleem is.
• Verstaan dat jy die beste gedoen het wat jy kon – en soos in Cornelia se geval – niks verkeerd gedoen het nie.
• Dink aan verskillende oplossings. Besluit waaroor jy beheer het en waaroor nie, asook oor die moontlike oplossings se voor- en nadele.
• Kies die beste oplossing en pas dit toe.























