GELUKKIGSTE JY!

GELUKKIGSTE JY!

Voed hierdie 9 dinge in jou lewe en jou tone sal omkrul van plesier!

2009-09-04Renette Espach

Jou sintuie

•    Sien die mooi dinge raak: ’n boom vol bloeisels of daardie moet-hê hakke in die winkelvenster.
•    Proe die lekkerte van ’n stuk sjokoladekoek saam met jou beste vriendin.
•    Drink die reuk van jou gunsteling geure in – vanielje, beskuit in die oond, reën en daardie onweerstaanbare naskeermiddel aan jou man se nek.
•    Voel weelde onder jou vingers – peperduur lakens, daardie toppie van ru-sy of jou troeteldier – enige iets wat lekker is om aan te vat.
•    Luister na musiek sonder om enige iets anders te doen.

Jou liggaam

•    Gebruik doelbewus jou lyf – gaan stap om die blok of probeer om (uiteindelik!) ’n krapstand te doen.
•    Kyk na kinders op ’n speelgrond. Alles lyk na pret! Gaan oefen en fokus op een ding: PRET!

Jou doelwitte

•    Doen die dinge waarin jy goed is, soos om ’n vriendin raad te gee of te help met ’n nuwe liefdadigheidsprojek.
•    Ontdek ’n nuwe talent, êrens binne jou skuil dalk ’n skrywer, skilder of fotograaf!

Jou herinneringe

•    Kies om oor niks spyt te wees nie, niks is ooit verniet nie. Die foute in jou lewe het jou ongetwyfeld iets geleer!
•    Vergewe almal wat jou te na gekom het. Woede en wrokke maak jou net ongelukkig.

Optimisme

•    Besluit om te glo dat als goed sal uitwerk. Daardie oortrokke rekening of probleem by die werk is net tydelik. Niks moet jou stop om weer te probeer nie.

Fokus

•    Moenie tyd mors op dinge wat jou verveel nie. Die lewe is net te kort vir nog ’n sessie met jou ouditeur.
•    Raak verlore in wat jy op die oomblik doen, dan gaan die slegte dinge verby – luister musiek en jy vergeet van die verkeer, gaan vat ’n lang bad en jy vergeet van die skottelgoed wat nog opgehoop in die wasbak staan.

Liefde

•    Doen minstens een keer ’n maand iets nuut saam met jou man. Probeer tango lesse, ’n spinning klas of muurbal.
•    Gesels een keer ’n dag met iemand wat jy lanklaas gesien het.

Waardering vir die natuur

•    Let op die wonder van die natuur, selfs al is dit net om te wens dat jy jou sambreel onthou het.
•    Staan ekstra vroeg op en luister hoe die voëls wakker word.

Jou selfwaarde

•    Luister na jou liggaam, as dit sê jy moet ontspan met jou voete in die lug en ’n boek om te lees, doen dit dan.
•    Doen gereeld iets net vir jouself. As jy hou van verf, verf. As jy hou van lees, lees. As jy hou van sjampanje drink in ’n bad vol borrels, drink sjampanje!

Plaas jouself eerste. Geluk is om die draai. Dit lê nie op die lesing van jou weegskaal nie, maar veel eerder op hoe lig jy andersins leef!

Kommentaar

gesels saam