HOE VERSKUIF EK BERGE?

HOE VERSKUIF EK BERGE?

Ek het soveel drome en ideale, wil graag soveel bereik met my lewe en 'n verskil maak in hierdie wêreld, ek wil 'n nalatenskap vir my kinders agterlaat, maar hoe doen ek dit? (Hoe verskuif ek berge?)

2009-08-17Liesel Krause-Wiid

A.    Weet waarheen jy jou berg wil skuif!

As kinders het ons almal groot drome gedroom, ons het geglo ons kan berge versit! Maar iewers langs die pad het ons opgehou droom, opgehou glo in onsself! Dalk het iemand jou droom beledig of het mislukkings jou gedwing om jou droom ver weg te bêre. Ek wil jou uitdaag – ontdek weer jou droom! Onthou God het daardie droom in jou hart geplant! Hy wil hê jou droom moet waar word. Maar as jy nie ’n duidelike prentjie van jou droom het nie, nie weet waarheen jy jou berg wil skuif nie, sal jou droom nie sommer realiseer nie.


’n Mens se doel hier op aarde het gewoonlik met jou passies en talente te doen. Iemand het eenmaal gesê: “Follow your passion and you will bump into your purpose!” God het vir jou sekere talente gegee wat jou toerus om jou droom ’n werklikheid te maak!


Sien waarheen jy jou berge wil verskuif in jou geestesoog. Om ’n visie te hê is ’n goue gevoel! Dit maak passie en energie in jou los. Skryf  nou dit wat jy wil bereik met jou lewe uit en beplan hoe jy daar gaan uitkom (dit gaan dalk met tyd verander, maar doen dit in elk geval). Die Engelse gesegde lui: “If you fail to plan, you plan to fail”.


Suksesvolle mense weet waarheen hulle oppad is en het ’n duidelike prentjie van hul eindbestemming in hulle gedagtes ingegraveer. Hulle stel doelwitte en strek hulleself om dit te haal.  Komaan! Tree buite jou gemaksone, jy kan daardie berg skuif en jou droom ’n werklikheid maak!


B.    Moenie dat jou drome wensdenkery bly nie, kom in beweging, tel die graaf op!

Nou dat jy weet waarheen jy jou berg wil verskuif, moet jy in beweging kom! As jy gedurig verskonings maak en redes soek waarom jy nie tot aksie oorgaan nie, soos ek het nie nou tyd nie, ek het nie genoeg geld nie of ek is te oud of jonk, is die kans goed dat jy jou wonderlike en kreatiewe ideale gaan dood broei!


Onthou, wat jy ook al wil bereik in die lewe moet jyself inisieer en laat gebeur.  Niemand gaan dit namens jou doen nie.  Dit is soos ’n swanger vrou, sy alleen kan geboorte skenk aan haar kind.  Niemand kan dit vir haar doen nie. Natuurlik help God jou met die proses, maar Hy kan niks vir jou doen as jy nie eers aan die beweeg kom nie! Soms moet jy net in die diep kant in spring en opgewonde uitsien na die resultate!


Moenie dat vrees vir mislukking jou stuit nie, die meeste dinge wat ons vrees gebeur in elk geval nooit met ons nie en as jy misluk sal dit jou verseker nie dood maak nie, jy kan net daaruit leer! So komaan, neem aksie - nou!!


C.    Deursettingsvermoë en selfdissipline spel sukses! Skuif jou berg kruiwa vir kruiwa!

As jy berge wil versit moet jy nooit ooit tou opgooi nie, jy moet deursettingsvermoë aanleer en in elke probleem of mislukking ’n geleentheid sien!


Doen elke dag alles wat jy doen uitnemend, in klein oorwinnings lê groot sukses opgesluit! Gee vir jou doelwitte sperdatums en hou daarby! Weet verseker dat elke klein optrede tel.  Die meeste volwassenes kyk tot twintig uur ’n week televisie, ja dit help jou ontspan, maar jy kon van die kosbare tyd gebruik gemaak het om nader aan jou droom te kom! Dante Alighieri het gesê; “Die wyses treur die meeste oor verlore tyd!”


Jy kan nie berge verskuif as jy slegs doen wat van jou verwag word nie, jy moet daai tweede myl stap! Daar is nie iets soos ’n hysbak na sukses nie, jy moet maar trappe klim.


Moenie net bloot besig wees nie! Hoe lyk jou dagboek? Spandeer jy daagliks tyd aan dit wat werklik jou visie is of hardloop jy rond soos ’n afkop hoender en mors jou tyd op onbenullighede? 


Breek jou finale doelwit af in kleiner makliker haalbare doelwitte.  Sodoende sal jy nie moedeloos raak as dit lank neem om by die eindstreep uit te kom nie. “Small things are believable and therefore achievable”! Beloon jouself wanneer jy jou doelwitte bereik.


D.    Vertrou God vir wonderwerke!

Suksesvolle mense glo in hulleself, hulle weet hulle is Koningskinders en tot meer instaat as wat hulle ooit kan dink of droom - in en deur Christus wat hulle krag gee. Hulle verwag dat die beste met hulle sal gebeur en handhaaf ’n positiewe gesindheid. Hulle besef sukses is ’n reis en nie ’n bestemming nie! 


Onthou God ontmoet ons op die vlak van ons verwagting, Jesus sê “Wat julle glo, sal gebeur!” Jou verwagtings en drome bepaal in ’n groot mate jou dade, lae verwagtings sal jou laat vasval in middelmatigheid. Ons bereik wat ons in ons geestesoog sien. Kyk na uiters suksesvolle mense , as hulle die hoogste sport kon bereik, kan jy ook!
God se droom vir jou lewe is groter en wonderliker as wat jy ooit kan dink! Geniet jou reis saam met God en weet saam met Hom kan jy berge verskuif!


Kommentaar
  • Een van my slagspreuke wat my al deur soveel donker dieptes gely het is "If you kan dream, and you can believe it, you can achieve it" So moet nooit ophou droom nie. Dink daar aan, elke mens gemaakte ding wat jy elke dag rondom jou sien, was eens op 'n tyd net 'n droom. Wat is joune?

gesels saam