133 BINNELANDERS SE DIEREMANIERE ... CELEB nuus Articles www.voelgoed.co.za

BINNELANDERS SE DIEREMANIERE ...

BINNELANDERS SE DIEREMANIERE ...

Dié Binneland-akteurs gesels oor die honde in hulle lewe.

2012-01-25

Daar is honde wat baie meer is as net ’n huisdier. Miskien is hy jou vertroueling, die een wat jou laat skaterlag en jou altyd soos die belangrikste persoon op aarde laat voel. Binneland se Pippa, Stefanie, dr. Tertius, Daleen en dr. Conrad praat behoorlik hondetaal en deel die redes waarom dié viervoetvriende hulle met ander oë na die hemel en lewe laat kyk ...


“Met haar groot lyf het sy begin hardloop na dáár waar die kinders eenkant in die see gespeel het. Skielik het sy hulle een vir een met haar neus uit die see begin stoot,” vertel Desiré Gardner oor Layla, haar liefling-labrador. “Hulle het gegil en geskree en Layla het gedink hulle is in groot moeilikheid en dat sy hulle moes red. ’n Ruk gelede het vriende met hulle babatjie van elf maande by ons kom kuier. Die aand aan tafel kon ek Layla nie onder by my voete voel nie en ek het begin soek. Sy was in die kamer waar die baba geslaap het. Sy het die deur met haar neus oopgestoot en by die bababedjie gaan sit om die kleintjie dop te hou, haar op te pas. Ek het haar geroep, maar sy het geweier om die kind alleen te los.”

Desiré Gardner en haar man, Chris, het Layla sowat ’n jaar gelede gekry en het onlangs vir haar ’n cockerspanjoelboetie aangeskaf. “Jou honde is soos jou kinders. Jy dink altyd joune is die oulikste!” lag sy. “Maar daar is iets omtrent Layla ... sy wéét wanneer jy sleg voel of as iets vreemds aan die gang is. Dan sal sy met haar kop op my skoot kom lê.
As ek huil, kom sy onmiddellik. So, as ons wil gaan slaap en sy wil nie boontoe kom nie, sal ek maak of ek huil – dan is sy daar!”

“Onlangs, ná Boetie reggemaak is, het hy en Layla vir ’n ruk by my ma-hulle gebly. My huis was skoner en my tuin het soveel beter gelyk, want daar was nie ’n enkele plant uitgetrek nie, maar ek het leeg gevoel. Hulle is my wolkinders en ek is baie lief vir hulle!”


“Hierdie gekruiste brakkies het mos gewoonlik sulke skerp gesigte, maar dié hondjie was nie so nie. Hy was die pragtigste ding.” Só vertel Hykie Berg oor die hondjie waarop hy sy hart verloor het. ’n Opregte Tswana-brakkie, sonder herkoms of heenkome.

Dit was gedurende sy reis in Botswana, in die dorpie Kang op die Trans-Kalahari-snelweg, waar ’n man ’n babahondjie op straat wou uitsit en dié Hykie se oog gevang het. Hykie het net daar besluit om die hondjie vir sy destydse meisie, Cheree, te neem. “Ek het die hondjie Shackiso genoem. Dit beteken Happiness. Eintlik is die regte woord Shantiso – ek wou smart wees maar ek het verkeerd gehoor,” lag hy.

“Die woef het saam met ons in ons tent op die wildsplaas Kalahari Rest gebly.” Hy het baie met Shackiso gepraat, vertel Hykie. En dié het nogal ’n Jock of the Bushveld-bestaan gevoer! “Dis ’n wonderwerk dat die wilde diere hom nie opgevreet het nie! Almal daar het gedink ek is mal, want ek was die enigste wit ou daar wat met my diesel BMW op die grondpaaie rondgery het – en die brak was saam!” Toe hulle deur die Rooi gebied gaan, is hulle by een hek deurgelaat, maar by die volgende een is hulle aangesê om Shackiso agter te laat. Dit het drie ekstra dae geverg om die hondjie se papiere reg te kry en toe is hulle Gaborone toe vir nege maande.

Toe Hykie terugkeer, het die verhouding tussen hom en Cheree op die rotse geloop en sy het Shackiso by haar gehou. “Ek het geen idee waar hy vandag is nie, maar ek nou trek na ’n plek toe waar ek diere kan aanhou. Was dit nie vir Shackiso se rol in my lewe nie, sou ek in daardie tyd maar bitter alleen gewees het en sou ek nie vandag hierdie begeerte gehad het om my eie honde te hê nie.”

“Dikwels sal ou Baron in die lug begin ruik, ’n bietjie grom en soekend snuffel. Dan sê my ma: ‘Dit is seker maar Oupa wat hier rond is …’” Só vertel Rolanda Marais oor haar ma-hulle se hond, Baron.

Rolanda Marais het nie self honde nie, maar sy het grootgeword met labradors, elkeen met sy eie persoonlikheid. Baron se impak op haar is blywend. “My ma-hulle het die hond gekry net voor my ma se pa, oupa Naudé, oorlede is. Hy was nog ’n klein hondjie. Ná my oupa se dood het my ma van sy skilderye uit die huis gehaal en op die stoep gesit. Skielik het ou Baron, klein hondjie wat hy toe was, voor die skilderye gaan staan en onbeheersd begin blaf – asof Oupa daar was.” Rolanda glo vas hy kan oupa Naudé se teenwoordigheid aanvoel. “Ek glo hy bring berusting en kom kuier vir ouma Rolanda, wat nog leef. Hy kom kyk of sy oukei is.”

Rolanda vertel dat hulle familie baie oopkop is in daardie opsig. “Daar is seker baie verduidelikings, maar ek hou daarvan om só daaraan te dink. Diere het ’n aanvoeling vir ’n hoër tipe bestaan, van ’n ander wêreld wat ons nie kan sien nie, so, hulle is vir my baie spesiaal.”

Omdat Rolanda nog altyd in woonstelle gebly het, kan sy net katte aanhou. Sy vertel hoe haar katte haar hartseer kan aanvoel en op haar hart kom lê wanneer sy “af” voel.

“Eddie was ’n bietjie vreemd. Hy het in ’n bad water geval toe hy klein was. So, met sy een oog wat daarna nie so lekker was nie, sou hy sommer so in die stap in die swembad val en dan piepie hy sulke straaltjies – dit is hoe mal die hond was.” So vertel Reynardt Hugo glimlaggend van Eddie, sy mopshond.

Toe Reynardt sy unieke hond twee jaar gelede aan die dood moes afstaan, was sy hart gebreek. Een van die redes waarom Eddie so na aan Reynardt se hart was, was dat die hond saam met hom deur al die fases van sy lewe gegaan het. “Vandat my ma-hulle geskei is, tot ons getrek het en ek universiteit toe gegaan het, tot hierdie fase by Binneland. Hy het al daardie oomblikke saam met my beleef.

“Dit het gevoel asof ek ’n broer of ’n pel verloor. Hy het in ’n stadium by my geslaap en my ringwurms gegee, maar al het hy in my kamer gepiepie, was dit sy manier om vir my te wys – ek gaan saam met jou deur al hierdie dinge!” Die dag ná Reynardt vir Eddie moes laat uitsit, het almal by Binneland vir hom ’n kersie opgesteek. 

Vandag het Reynardt ’n Pekinese hondjie vernoem na Chewbacca in Star Wars omdat sy net soos dié karakter lyk. “Van nature is Pekinese hondjies eintlik kwaai, maar sy is die vriendelikste hond in die wêreld. Sy weerspieël so ’n bietjie van wat in die huis aangaan. Sy chill net en huur lekker saam met my!” lag hy. “Ek wens net iemand wil vir my sê daar ís ’n dierehemel, want ek wíl my honde weer eendag sien. En my katte, muise, visse, marmotte ... sonder diere sou my lewe nie lekker gewees het nie. Voorheen was ek hierdie losbol-Johannesburger, en nou het ek iets om na huis toe te gaan.”

 “Mense kan nogal bevooroordeeld wees. Honde het net onvoorwaardelik lief,” sê Nadia Valvekens wanneer sy oor haar brakkies gesels. Klein Maya, ʼn sjokoladebruin nommertjie met groen ogies, is inderdaad ’n besige bytjie en is so gedoop omdat dié Nadia se gunstelingkarakter was toe sy ’n kind was.

“Omdat ek Maya van die begin af in my bed toegelaat het, slaap sy soos ’n mens. Uitgestrek en met haar kop op die kussing. As ek in die middel van die nag opstaan, maak sy net haar een oog oop en slaap verder! Sy maak geluidjies as sy wil hê jy moet met haar praat, waar Eli net vir jou kyk. Hy hipnotiseer jou amper tot jy hom optel.”

Sy glo haar diere is koesterend. Wanneer haar vriendinne deur ʼn moeilike tyd gaan, sal Maya en Eli spesiaal aandag aan dié gee wat dit nodig het. “Ek het nog altyd gedink ek is ’n verantwoordelike mens. Maar as ’n mens honde het, is jy skielik verantwoordelik vir iemand anders ook. Dit gee jou lewe ’n klein bietjie meer betekenis … en dit maak jou definitief minder selfsugtig.”


Kommentaar

gesels saam


argief

  • BAIE GELUK, VICTOR MATFIELD!

    Kan julle glo dat Victor Matfield, die mees suksesvolle rugbyspeler in ons rugby-geskiedenis, nou finaal van die veld af is?
  • ONS GESELS MET ... MATHYS ROETS

    Mathys Roets is n diep ou met wie die lewe al wye draaie en steil opdraandes geloop het, maar hy vind vreugde in die klein dingetj...
  • SANGERS WORD IN STYL VEREER!

    Daar was groot opgewondenheid en opwinding tydens die 18de SAMA-toekenningsgeleentheid by Sun City! Baie van die gunstelinge het m...
  • DIE BESTE KOM NOG ...

    Pierre Spies het nog altyd geïnspireer. Ons het meer gaan uitvind oor sy geloofsreis om, ondanks terugslae, steeds so n goeie...
  • HOEKA TOEKA

    The Residence is weggesteek in die hartjie van Houghton en was al n tuiste vir vele bekendes - insluitend vormalige President, Nel...
  • GAAN KYK A MILLION COLOURS NOU!

    Die fliek A million colours het groot opslae gemaak by filmfeeste in die buiteland en is van vandag af in teaters regoor die land ...
  • AS EK EEN DING KON VERANDER ...

    Ná n loopbaan van 23 jaar sonder een enkele blaaskans, het Patricia en Mark hulle vakansiehuis in die eksklusiewe Zimbali-l...
  • NÁDINE BETOWER CHINA

    Nádine se goudverkope status album word In China uitgereik
  • SUSAN COETZER BOEKBEKENDSTELLING:

    Tjoklits vir die siel
  • 10 JAAR VIR GOD TV IN AFRIKA

    GOD TV het in 2001 hulle kantore in Kaapstad geopen, waarna die GOD-kanaal begin het om regoor Afrika, via satelliet, uit te saai. Meer as...
soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]