124 WATTER GEUR PARFUUM IS REG VIR MY? SKOONHEID v&a Articles www.voelgoed.co.za

WATTER GEUR PARFUUM IS REG VIR MY?

As jy 'n bottel met elkeen van jou emosies kon vul, watter bestanddele sou jy daarin vind? Ontdek ’n wêreld van hemelse geure en die kuns van goed voel oor jouself!

2009-06-03Isabel Nell

Blomme

Blomgeure is kalmerend, sensueel, vroulik en het `n kalmerende uitwerking op die denke.

Laventel Kom meestal uit Kroasië, Bulgarye, Frankryk en Engeland en het ’n kalmerende invloed. As jy aan slaaploosheid lei kan `n sagte parfuum wat laventel bevat `n goeie nagrus aanhelp.
Lemoenblomolie (Neroli) Hierdie geur word ook baie gebruik as behandeling vir skok. As jy besonders emosioneel voel sal dié aroma soos ’n troostende vriendin wees.
Ilang-ilang beteken “blom der blomme” en het ’n oorsprong in die eilande van Mauritius en Seychelle. Ilang-ilang het ’n eksotiese, tintelende sterk blomgeur en is presies wat jy nodig het as jy paniekerig of depressief voel.

Speserye

Die aroma van speserye is stimulerend en pas by vurige vroue wat passievol is oor die lewe!

Gemmer Alle geurige bestanddele wat van ’n wortel afkomstig is, het kalmerende invloede. Gemmer verskerp die sintuie en gee vir jou `n warm en vrolike gevoel. Daar word gesê dat as jy dit daagliks ruik, bevorder dit jou geheue!
Swartpeper se oorsprong lê in Singapoer, Indië en Maleisië. Peper is baie stimulerend en is goed vir jou frustrasies.

Kruie

Die aroma van kruie balanseer jou liggaam en denke wanneer jy met die verkeerde voet uit die bed geklim het!

Sitroengras kom voor in Indië, Suid-Amerika en Sentraal-Afrika. Hierdie geur verfris jou en is doeltreffend vir lusteloosheid en wanneer jy moeg voel.
Groenment het `n effense sagter reuk as peperment. Die kruiegeur kom van Asië, Amerika en Brittanje. Dit werk uitstekend vir `n swaar gemoed en is stimulerend vir tye wat jy lam en uitgeput voel.

Bome

Die aromatiese geure wat van bome gemaak word, is vir jare lank al gebruik om die denke te fokus en die gemoed te kalmeer.

Sipres beteken “ewiglewend” en het sy oorsprong in Duitsland. Die reuk van hout is kalmerend en verhelder jou denke. Die geur is vertroostend wanneer jy hartseer voel.
Ravensarablare groei in die reënwoude van Madagaskar en versterk jou as jy moeg voel of wanneer jou stressvlakke besonder hoog is.
Sandelhout word ook gebruik om wierook te maak en groei in Suidwes-Indië. Hierdie geur het ’n baie sterk invloed op slaaploosheid en is net wat jy nodig het om spanning af te skud!

Sitrus

Sitrusgeure is bekend vir hul vermoë om die gemoed op te helder! Wees versigtig om parfuum wat sitrusolies bevat te dra in die son, dit maak die vel fotosensitief en kan pigmentasie veroorsaak.

Bergamot (sitroen) is ’n sitrusboom wat in Italië en Marokko gekweek word. “Vrolik en vars” is die beste beskrywing vir die geur en beslis die oplossing vir wanneer ’n mens kwaad of gefrustreerd voel!
Mandaryn is ’n vrug met `n soet reuk wat in Brasilië, Italië en Suid-Afrika groei. Die vrug self herinner jou aan ’n naartjie.
Die geur van mandaryn sal jou versterk as jy broos of depressief voel
Pomelo kom van Amerika en die aroma het ’n kalmerende uitwerking op die senuwees! Die geur van pienk pomelo’s gee jou ’n eufoniese gevoel.



Kommentaar

gesels saam


argief