Hoop in moeilike tye

Jannie Putter

Baie mense wonder hoe kan hulle met meer hoop lewe terwyl dit voel of krisisse en uitdagings hulle van alle kante tref.

Ons kyk deesdae gedurig na wat ander mense op sosiale media aanvang. Wat ons op sosiale media doen, wys baie van ons persoonlikheid, net soos die klere wat ons dra, die goed waarvan ons hou en hoe ons optree. Dit is erg om te hoor van die verskriklike toename in selfdood, depressie en verslawing, veral onder ons jongmense.

Kenners sê dat hierdie statistiek meestal toe te skryf is aan die effek wat sosiale media op ons het. Ons sien heeltyd hoe gelukkig “al die ander mense in die wêreld” skynbaar is. Dit maak die dinge wat vir ons moeilik is, sommer twee keer so erg.

Moeilike dinge kan ook goed wees

Om sonder hoop te leef kan ’n mens se siel doodmaak. Dis belangrik dat ons iewers weer moet hoop kry! Die dag toe ek besef het dat alles nie oor my gaan nie, het my lewe heeltemal verander.
Elkeen van ons se lewe het ’n dieper betekenis. Dis daarom belangrik dat ons ook vir God en ander mense moet leef, nie net vir onsself nie.

As jy dit doen, sal jy agterkom dat elke moeilike ding wat oor jou pad kom, tog op ’n manier betekenis en waarde vir jou kan hê. Jy kan vir ander mense weer hoop gee deur hulle te vertel hoe jy aan die ander kant van jou moeilike situasie uitgekom het.

As jy heeltyd gaan kyk na wat ander mense doen en sê, hoeveel lekker dinge hulle doen en hoeveel geld hulle het, maak jy die lewe vir jouself moeilik. Jy kan dan begin voel daar is nie hoop vir jou nie.

Fokus op die groter prentjie

Weet jy hoekom jy hier is en wat jy veronderstel is om hier te doen? Ons moet so leef dat ons ’n verskil in ander se lewens kan maak en ander mense iets in ons kan raaksien wat hulle ook graag sal wil hê.
Jy hoef nie vas te kyk in dit wat nou met jou gebeur nie – jy kan daarby verby kyk. Sien die groter prentjie...

Stephen Covey sê in sy boek The 7 Habits of Highly Successful People: “Successful people begin with the end in mind.” As dit wat jy nou doen, jou soms bangmaak, kan jy probeer om te dink aan wat jy graag uiteindelik daarmee sal wil bereik en nie net vaskyk in die hier en nou nie.

Ons verloor maklik hoop. In Romeine 8 staan daar dat ons seker kan wees dat alles ten goede sal meewerk vir elkeen wat die Here liefhet. Dit beteken dat alles wat met jou gebeur – al voel dit op daardie oomblik baie sleg – verseker uiteindelik tot jou voordeel sal wees. Dit gee jou meer wysheid, waagmoed en deursettingsvermoë. Ons wil almal tog sulke eienskappe hê.

As ek terugkyk op my eie lewe en veral aan die tyd toe my ouers geskei is, sien ek hoe my lewe in ’n nagmerrie verander het. Dit was ’n aaklige tyd in my lewe. Ek het haat en bitterheid beleef. Ek was kwaad vir alles en almal. Die wêreld om my het die skuld gekry omdat my lewe nie perfek was nie... Ek het hoop verloor!

Wat met jou gebeur, maak jou sterker

Gelukkig is God getrou aan Sy woord – Hy het my nooit verlaat nie, al het ek so gedink. Uiteindelik het ek weer my hoop gevind (of was dit vir God?). Ek het besef dat my lewe nie net oor my gaan nie. Ek het besef dat alles wat met my gebeur het, uiteindelik sal bydra tot wie ek moet word (en wat ek vir ander mense kan beteken).

My ouers se egskeiding, dit wat in ons huis gebeur het, die drankverslawing en perversiteit wat my lewe oorgeneem het, was alles om my voor te berei vir die werk wat ek vandag doen.

Ek wil jou vandag bemoedig deur jou te verseker dat jou lewe ’n doel het! Elkeen van ons kan vir iemand anders iets beteken. Jy kan mense vertel hoe jy bo jou moeilike omstandighede uitgestyg het. Die oomblik wat daar iets moeiliks met jou gebeur, het jy ’n storie om te vertel.

Mag jou storie een wees van hoop, omdat jy deur al die storms op jou pad nooit moed opgegee het nie. Jy het aangehou, deurgedruk en bly hoop. Iemand het eenkeer gesê dat daar nooit hopelose situasies is nie, net mense wat in situasies hoop verloor.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test