Gesonde oefeninge wat jou hart help

25 Oktober 2012

Jou hart werk so hard om jou aan die gang te hou dat dit in slegs een uur genoeg energie genereer as wat sou nodig wees om 1 ton gewig 1 meter bokant die grond op te lig.

Het jy geweet jou hart klop tussen 70 en 80 keer per minuut? Dit is omdat jou hart voortdurend die 5 liter bloed (vir ’n gemiddelde volwassene) in jou stelsel moet sirkuleer, sodat suurstof en voedingstowwe na elk van jou 50 triljoen selle geneem kan word en om die afvalprodukte wat hulle vorm te verwyder. ’n Klomp ongelooflike syfers? Ons het gedink dis die mees gepaste manier om die belangrikheid van die sirkulasiestelsel vir jou algemene welstand te illustreer.

Voorkom die onooglike spatare

Die meeste mense beskou spatare as ’n onooglikheid en nie noodwendig as iets wat hulle gesondheid belemmer nie. Tog is dit nodig om daaraan aandag te gee. Spatare kan beskryf word as geswolle en verwronge are wat naby die oppervlak van die vel sigbaar is – gewoonlik agter die knieë, maar moontlik ook op ander plekke. Om te verduidelik waarom spatare voorkom, dink aan ’n pyp wat vol vloeistof is. Die vloeistof moet opwaarts vloei, teen swaartekrag. Om beweging in die regte rigting aan te moedig, is daar kleppe in die pyp wat verhoed dat die vloeistof weer terugvloei ondertoe. Wanneer hierdie kleppe in jou are nie behoorlik funksioneer nie, versamel bloed in een plek en vorm ’n poel. Die are swel dan en word spatare. So, wat kan jy doen om dit te verhoed? Eerstens sal dit baie help om so dikwels moontlik met jou voete in die lug te sit. Jou bloed sal dan in dieselfde rigting vloei as swaartekrag. En ongelukkig is dit geneties. So as jou ma spatare gehad het, is die kanse groot dat jy dit ook gaan hê. Dra dus spesiale sorg as jy dink jou gene plaas jou in gevaar.

Bevorder sirkulasie en so jou gesondheid

Nog ’n nare nagevolg van swak sirkulasie is bloedklonte (trombose). Hierdie probleem, anders as spatare, het ernstige komplikasies. As bloedklonte voorkom in dieper are (diepaartrombose) bestaan die moontlikheid dat hulle kan loskom en ’n belangrike orgaan, soos die long, kan blokkeer. Dit word ’n pulmonêre embolisme genoem – ’n ernstige toestand wat onmiddellik behandel moet word omdat dit tot die dood kan lei.

Is jy in gevaar vir trombose?

  • Diegene met oorgeërfde bloedstollingsiektes.
  • Diegene wat bedlêend is weens ’n operasie, siekte of besering.
  • Diegene wat kankerbehandeling ondergaan.
  • Mense wat dikwels reis.
  • Swanger vroue.
  • Diegene ouer as 60.
  • Oorgewig persone.
  • Enigiemand wat geboortebeperkingsmedikasie gebruik of hormoonbehandeling kry.
  • Onthou, as meer as een risikofaktor op jou van toepassing is, verkeer jy in groter gevaar. Sorg dus dat jou sirkulasiestelsel gesond is. Raadpleeg jou dokter oor verskillende maniere om hierdie probleme te verhoed.

Doen genoeg oefening, terwyl jy daar sit!

Baie van ons het eenvoudig nie in die dag tyd om meer aktief te wees nie. Ons gebruik reeds die trappe pleks van die hysbak, maar dit bly nietemin die meeste van ons se lot om heeldag agter ’n lessenaar vasgegom te sit! Hoe nou gemaak? Probeer die volgende lessenaaroefeninge om jou bloed aan die vloei te hou en probeer ook om ten minste 3 keer per week vir ten minste 30 minute in die gimnasium te oefen.
1. Hurksit Probeer in die oggend by jou lessenaar sit om jou e-posse te beantwoord, maar sonder ’n stoel! Dit klink bisar en ongelooflik moeilik, maar dit sal geleidelik makliker word en dink net hoe ferm jou agterstewe gaan wees! Doen dit met jou rug teen ’n muur om dit makliker te maak en hou die posisie vir 15 tot 30 sekondes met 30 sekonde ruskanse tussen-in. As dit darem te erg klink, probeer dan om ’n paar keer gedurende die dag jou stoel vir ’n gimnasiumbal te ruil – dit gee wonderlike spiertonus omdat jy moet werk om jou balans te hou en die ekstra beweging sal help om die bloed aan die vloei te hou.
2. Buig jou knieë! Een of ander tyd val jou pen of iets anders van jou lessenaar af. Moenie met jou arm rek om dit te probeer optel nie. Staan op uit jou stoel, hou jou rug reguit en buig jou knieë om die voorwerp op te tel. Dit verg dalk meer konsentrasie as gewoonlik, maar dis ’n goeie gewoonte om aan te leer aangesien dit wondere vir jou postuur doen en boonop sal jou sirkulasie hierby baat.
3. Koel komkommer Al in films gesien hoe die grootbaas van ’n maatskappy hande agter die kop en met sy voete op die lessenaar sit? Dit lyk baie onprofessioneel en werk dalk nie vir jou nie omdat jy altyd deur mense omring is, maar wanneer niemand kyk nie, kan jy dit gerus probeer. As jy ’n paar minute per dag so sit sal jou are behoorlik laat hande klap! As jy uitgevang word, sê net dis vir mediese redes!

Deel/Stuur

0 kommentaar oor "Gesonde oefeninge wat jou hart help"

Lewer Kommentaar

CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Sleutel die karakters in wat vertoon word.