Wat maak jy met jou talente?

by Blogger - Toortsie / Oct 03, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 110 mense.

‘n Man kom nou die dag na my toe in die winkel en sê vir my dat hy my bewonder vir die talente wat ek ontvang het, maar veral dat ek dit gebruik.

Hierdie skrywe gaan nie oor my nie. Dit gaan oor ons talente. Ons almal het talente ontvang, die een dalk minder as die ander, maar almal van ons het een of ander iets gekry waarin ons goed is. Die vraag is, gebruik ons dit?

Soms is ons so nederig, ons is te skaam om die talente wat ons het te ontwikkel, want wié is ons nou in elk geval? Die ander is dan so goed! Soms is ons so vasgevang onder ons werkslas, dat ons net nooit die tyd kry om die talente wat ons regtig het, te ontwikkel nie. Of ons is botweg net te lui. Dalk laat ons ons ontmoedig deur die opmerkings van ander?

In Matt 25 lees ons die gelykenis van die munstukke. Drie verskillende persone het verskillende hoeveelhede muntstukke ontvang. Dié wat meer ontvang het, het gaan woeker met hulle muntstukke en met die terugkeer van die uitdeler daarvan, is hulle wat daarmee gewoeker het, s’n vermeerder, terwyl die een wat syne begrawe het, s’n weggevat is.

God gee aan ons talente om dit te geniet, om dit te ontwikkel na die beste van ons vermoë. Wat wonderlik is, dat, in die ontwikkeling van ‘n talent, ons, sonder dat ons dit besef, nuwe vaardighede bykry, vaardighede wat ons nooit geweet het ons het nie.

My uitdaging aan elkeen van ons is: Laat ons ons talente ontwikkel, selfs al is ons tyd min. Ons hoef dit nie alles op een dag te doen nie, maar solank ons dit net doen, stukkie vir stukkie.

Een dag, wanneer jy dit die minste verwag, gaan jy beloon word daarvoor.

Groetnis

Toortsie

(Foto: Lize Venter)

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.