Om te pendel saam met jou man

by Blogger - Toortsie / Mar 28, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 418 mense.

Pendel, pendelaar, pendelry, pendelary ... nee, stop! Pendelary klink soos swendelary, en dís nou nie iets waarmee ek my wil bemoei nie!

Dis al ʼn hele paar jaar wat ek so agter my man aanpiekel. Soms gaan dit goed en ek doen dit met ʼn

glimlag, soms steek die donkie vas en sê: “Hokaai! Tot hier toe en nie verder nie!”

Die gependel gaan voort, nou meer as ooit. Ons pendel tussen die huis en twee ander plekke. Dan wil ek nog tussenin see toe ook! Ek is altyd elders!

Ek wou die pendelry anders aanpak. By my huis sou ek huisdinge doen, en ons sou voortaan net na een plek pendel, en dáár sou my kantoor ingerig word. Dáár sou ek wérk!

Ongelukkig besluit die natuur hoe dit sal gebeur. Daar waar my kantoor moet wees, is nou ʼn uiterste droogte, die werk is op ʼn ánder plek!

So, dis ek, my hond, hekelwerk, rekenaar en drukker wat saampiekel. Soek ek ʼn lêer, lê dit op een van die ander plekke!

Hierdie is ʼn 4x4 roete, soms makliker as ander tye. Soms is daar die mooiste sonsondergange om te geniet saam met jou man, ander kere trap ʼn mens onbewustelik, of bewustelik, ʼn landmyn af! Soms is die pad klipperig en steun en kreun jy met elke beweging.

Sou jy my die geleentheid gee om oor te kies, wat sal ek antwoord?

Natuurlik gaan ek saam! Landmyne of te nie! Hierdie is ook saamweestyd met my man, tyd wat ons anders elkeen op sy eie sou spandeer. Herinneringboutyd. Huweliksboutyd. Dis juis op hierdie 4x4 roete wat daar soms ʼn verrassing soos ʼn skemerkelkie om ʼn hoek loer.

So, maak die veiligheidgordel vas, die lewe is ʼn reis! Soos die Bybel sê, maak die beste gebruik van elke geleentheid.

Groetnis

Toortsie

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.