Loopstories - Die Camino Frances Deel 5

by Blogger - René van der Merwe / Aug 11, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1669 mense.

3 Junie - 5 Junie

Hola!

Buenos Dias.

Dos cafe con leche por favor

Gracias

So begin ons elke dag, as ons eers ons koffie gedrink het, is ons reg vir die dag. Die taxi rit na Leon is vinnig en lekker so op ons agterstewe. Alhoewel ons so bietjie skuldig voel oor die besluit om nie vandag te stap nie, besef  ons dat die rus net so nodig is soos elke oggend se koffie.  Die stad is pragtig en ons besoek die katedraal met die mooiste loodglasvensters en geniet sjokolade in al sy glorie by Chocolatería Valor. Ek drink ’n koppie gesmelte sjokolade, Skoonma kies ’n koue sjokolade mengsel en Rowan, ons stapmaat van Oos Londen drink ʼn sjokolade skuimbesigheid. Ek orrie amper van die laaste uitleksels maar die straatmusikant se mooi trekklavierklanke laat my beter voel en dit was so amper of ek bestel nog ’n rondte, want dit smaak hemels! En so sit-sit ons die dag om.

Ons moet Leon groet en aanbeweeg, Skoonma se blase is baie seer, maar sy stap moedig voort. Die Camino Frances roete loop van oos na wes, so die son skyn meestal van agter en so draai ons soggens kort-kort in ons spore om om die skouspel van kleure in die lug te aanskou. Later bereik ons Hospital de Órbigo. Daar word jaarliks ’n Middeleeuse fees gehou en mense trek aan soos daardie tyd, vlae wapper, perde is uitgetof , groepe marsjeer op en af en die musiek en trompetgeskal gee die atmosfeer ’n gevoel van daardie tyd.

Op die brug kyk ek terug, die son het my effens verblind en uit die verte kom ’n man aangestap, hy gee sulke groot stadige treë, die vrouens giggel. Ek was verblind en met die son agter sy rug en in my oë is ek nou nog nie seker of dit regtig Braveheart was nie, maar ek dink hy moes die hoofrol speel van daardie dag se vertoning. Ek staan half bedwelmd en wag dat hy my op sy wit perd tel en ons oor die heuwels weg gallop, maar Skoonma se stem bring my (te) vinnig terug  na die werklikheid: “toe René staan gou by die man dat ek ’n foto kan neem”.

Ons kwyl by die stalletjies, maar kan gelukkig niks koop nie, want jy moet alles op jou rug dra en jy eet reeds jou padkos vroeg op en wens daai sakkie waspoeier en nuwe tandepastabuisie kan vinniger leeg en ligter raak. Ons stap aan, ek is nog so half in ’n waas, maar verkyk my aan die rose in Spanje wat so geil rank, hul skou behoorlik en die roosknoppe wat nog nie oop is nie, roep “wanneer is dit my beurt?”. Die rose hier ruik nog soos rose geruik het toe ons kinders was.

VIR MEER CAMINO BLOGS:


Loopstories -
Die Camino
(Deel 4)
   

Loopstories -
Die Camino
(Deel 3)

Loopstories -
Die Camino
(Deel 2)

Loopstories -
Die Camino
(Deel 1)

 

  • Blogger - René van der Merwe

    My naam is René, ek woon in die Swartlandse dorp Malmesbury in die Wes Kaap. Ek is versot op my man, verslaaf aan my vriendinne, verlief op my twee hondekinders en mal oor stap, hetsy om die blok, straataf na my skoonsus, met my honde op ’n drafstappie, saam met ’n vriendin na die naweek se pizza en koek of sommer net alleen in die veld.  Deur die dag reël ek my man se lewe, letterlik :), ek reël sy vertonings landwyd en terwyl hy die land vol toer gaan loop ek ’n entjie :)

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.