Koop tyd

by Blogger - Toortsie / Mei 16, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 260 mense.

Ons is almal oorbedrywig, oorbesig, soveel so dat ons letterlik by niks uitkom nie, ook nie by onsself nie.

Tog, met ‘n bietjie beplanning, is dit moontlik om tyd te koop.

In my jongdae het ek daarin geglo aan ‘n klomp take tegelyk te doen, oftewel, ‘multitasking’. Intussen het ek geleer dat dit nie heeltemal so goed werk nie, dat ek op die ou end eintlik net een ding op ‘n slag kan doen, alhoewel ek met vyf verskillende goed besig is.

Tog kan ‘n mens tyd koop.

My motor moes gewas word, maar ek het net nie die tyd om dit na die motorwasplek te neem en vir ‘n uur of wat in die winkel rond te dwaal totdat die motor uiteindelik klaar is nie. Intussen raak die motor vuiler en vuiler, dis nog vol modder ook. Toe ek amper by die haarkapster is, besef ek, hier gaan ek nou vir twee ure sit terwyl my motor nie gebruik gaan word nie. Wel, dit hét beteken dat ek drie blokke ver in effense motreën moes stap, maar hoekom nie? Dis twee vlieë met een klap en ‘n hele klomp tyd gewen.

Die haarkapster vra of ek ooit na oudioboeke luister en skielik besef ek, hier is nóg ‘n manier om tyd te koop. Ons is lang ure op die pad, hoekom nie na ‘n oulike oudioboek luister terwyl my man bestuur en ek sit en hekel nie?

Hierdie is maar net twee maniere om tyd te koop, ek is seker daarvan dat as ‘n mens daarop konsentreer, jy aan hoeveel maniere kan dink om meer produktief met jou tyd te werk sodat jy, in die proses, meer tyd vir jouself kan hê. Want, net so belangrik dit is dat ons ons tyd produktief gebruik, net so belangrik is dit dat ons stilweestyd sal hê, of rustyd, familietyd, niksdoentyd.

Groetnis

Toortsie

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.